Sunday 26 November 2023

Kreefkerrie en Koos se Avonture hoofstuk 2.

 Na my ongekende sukses van die eerste hoofstuk en aangesien my 3 gereelde lesers aangedring het, het ek nou hoofstuk 2 geskryf. Dankie vir die mak AI vir die prentjie:

Hier is 'n link na Hoofstuk 1. Jy moet dit lees voor hierdie aanders gaan hierdie nie sin maak nie:

Hoofstuk 1: Koos-die-zombie-slayer-aka-hoe-om-kerrie.html

 


Hoofstuk 2: Kreefkerrie en die Geheim van die Weskus

Ons is by 'n kampplek in Langebaan en het 'n plot gekry met net 'n deining tussen ons en die see. Die vroeg oggend see lug is vars en koel van die see af en dit lyk asof dit 'n ongelooflike dag gaan wees.

Terwyl ek besig is om die koffie in te gooi kom Daleen aangestap van die Landrover af. Ek het solank 'n vuurtjie aan die gang gekry en die kis met die koffie gereedskap versigtig uitgehaal om haar nog 'n bietjie ruskans te gee. Woordeloos omhels ek haar en hou haar styf teen my. Ek kan aan haar voel hoe sy bewe en ek besef sy is diep geraak deur laasnag se gebeure.

Met 'n beker moerkoffie, met baie kondensmelk, sit ons en kyk uit oor die see en die rustige branders wat reelmatig inrol. Die rustigheid van die see, die kaffein en die suiker het duidelik 'n uitwerking. My agtergrond is forrensiese rekeningkunde en bietjie programering en hierdie is buite my liga. Ek is ook nie 'n geweldadige mens nie en is nog nie oor die feit dat ek 'n moersleutel gebruik het om ons uit die gemors te kry nie. Maar eerste dinge eerste, ons moet bietjie rus kry, 'n uitrusting of twee vir Daleen en gaan stort.

Ons moes 'n paar minute wag vir die Foshini om oop te maak. Terwyl ons wag vertel Daleen dat een van haar kontakte is 'n forensiese toksikoloog wat gehelp het om die Tik te analiseer en sy weet dat hy 'n strandhuis in Paternoster het. Miskien is hy daar vir die naweek en sy wil graag met hom gesels.

In die klere winkel terwyl Daleen klere uitsoek by die onderklere afdeling kry ek 'n idee. “Kry vir jou die sexsyste panty wat hulle hier het.” se ek vir haar. Ek begin lag toe ek haar uitdrukking sien. “Moenie worry nie, ek sal verduidelik, dis nie wat jy dink nie.”

Na 'n stort en Daleen geklee in haar nuwe uitrusing met 'n stywe jean (wat baie goed lyk vir my) besluit ons dat ons nie nou in staat sal wees om te rus nie en ons gaan deur ry Paternoster toe om te sien of ons vir Rudolf Malan in die hande kan kry. Ons het nie 'n adres nie en kon hom nie in die hande kry nie.

Paternoster is 'n klein vissermansdorpie wat die laaste paar jaar op die oppervlak verander het in 'n toeriste attraksie. Ek het 'n paar jaar gelede op 'n kontrak vir een van die inmaakmaatskappye hier vertoef. Die dorpie is steeds die grootste bron van kreef in Suid Afrika en die lisensies vir die uithaal van die kreef is toegeken gedeeltelik aan die plaaslike vissermanne en gedeeltelik aan die inmaak fabrieke. Dit is egter nie genoeg vir die inmaak fabrieke nie en hulle het meeste van die lisensies vir die plaaslike mense ook uitgekoop. Dit het heelwat verander aan die mense wat tradisioneel vissermanne was wat nou slegs betaal word vir die lisensie en nie meer die kreef uithaal nie. Dit het sy eie probleme teweeg gebring.

Ons stop by die Paternoster hotel waar ek voorheen 'n nag of twee oorgebly het. Daar was dit die eerste keer wat ek my hare skoon geskeer het na 'n lang aand en heelwat biere agter die blad. Antjie was die kroegman aka barmoeder en sy het gereeld die manne (en dames) net voor toemaak tyd van hulle hare beroof. Ek kon nooit weer daarna terug gaan na 'n ander haarstyl nie en kom ook agter dat dit in elk geval so bietjie minder is reg bo-op deesdae.

“Kom ek moet jou iets gaan wys.” se ek vir Daleen. As jy instap in die Pantybar is die eerste ding wat jy opmerk die hele dak vol gehang van alerhande vroulike onderklere. Kleurvol en soveel dat daar skaars plek is vir nog een. Die storie van die Pantybar is dat dit in 1974 deur Johan Carosini begin is en hy 'n versameling van die wittebrood onderklere begin het. Dit het 'n welbekende attraksie geword aan die weskus. In 1983 het een van die plaaslike polisie beamptes besluit dat dit “onheilige praktyke” is wat daar plaasvind en het alles verwyder. Hy was daarna alom bekend as Panty Basson. Die versameling is weer begin en daar was nie 'n tekort aan gewillige donateurs nie. “Daleen. ek hoop jy het die label afgehaal van jou gedoentietjie wat jy gekoop het?”

Sedert ek laas hier was is hier nou 'n nuwe kroegmannetjie. Pieter stel hy homself voor aan ons. Ons sit by die kroegtoonbank om te kan gesels met Pieter om uit te vind of hy ons dalk kan help met inligting. Met 'n groot glimlag oorhandig Daleen haar fonds van die klerewinkel: “Iets vir jou dak.”

Pietertjie, klink dit vir ons, hou sy oor nogal redelik op die grond vir gebeure in en om Paternoster en met die bribe van Daleen se onderklere is hy meer as gewillig om te deel. Hy weet van Rudolf Malan maar hy kom nooit hier nie. Die vissermanne skinder maar partykeer. Hy het gehoor van die fancy twee verdieping mansion wat iemand van die Kaap gebou het en verduidelik vir ons dat dit die laaste pad is wat links draai voor jy uitgaan Tietiesbaai se kant toe. Ons verneem ook oor hoe die plaaslike dwelm gebruik is en veral Tik. Een van die konstabels het hom vertel dat hulle twee lyke gevind het net voor die lighuis in die rotse en dit was bekende Tik gebruikers. Toe hy eers lekker aan die praat is vertel hy: “Die ouens op die bootjies wat daar van die water se kant af die wal kan sien het Donderdag so paar groot swart motors in 'n konfooi sien ry daar by Tietiesbaai naby aan die lighuis. Hy is 'n regular hier. Was net gisteraand hier en het my vertel daarvan. Man, as julle my vra klink dit my daar gaan iets baie funny aan daar by Tietiesbaai, lyke, konfooi swart karre.” Hy skud sy kop en vertel verder, “Ons kry maar ons share van Capies maar dis gewoonlik families wat vir die naweek en die cheap kreef kom”

Toe ons klaar gesels het vra ek hom waar ons paar krewe kan kry. Ek wil graag vir Daleen kreefkerrie maak. Hulle se dat 'n pad na 'n man se hart is deur sy maag maar ek dink dit is baie meer vanpas andersom. As 'n man kan lekker kosmaak is die pad na haar hart geplavei met rose.

Kreefkerrie is 'n ou maleise resep wat ek teegekom het in Kaapstad en ek was ook eers baie skepties, hoe kan jy kreef opvoeter om kerrie daarmee te maak? Maar glo my dit is die lekkerste wat ek nog ooit kreef gehad het.

------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Dankie vir die lees. Ek het baie lanklaas kreef gehad, watwou nog kreefkerrie gemaak en gesoek vir 'n resep wat ek kan deel. Ek het afgekom op hierdie video van Kosmeester Kortes:

https://www.youtube.com/watch?v=PPKHEj1ogwY

Hou dop vir die volgende hoofstuk!

Lekker kreefkerrie maak!

Dirk




2 comments:

Anonymous said...

Goed gedoen gaan voort met die volgende hoofstuk..

Anonymous said...

Heyyyyyy. I wanna read more....off to read the next piece. I love Paternoster..now I must go see this Panty Bar!