Saturday 16 July 2022

Olyf tapenade Braaibroodjie

 Die donnerse Eskom. Hulle het ons nou al in 'n Stockholm syndrome. Ons is daadwerklik DANKBAAR as hulle die slag ons krag aanskakel. 

Die ergste tydgleuf is die 18:00 tot 20:30 een. Dis gewoonlik wanneer ons aandete maak. So ons moet voor 6 klaar wees of eers in die middel van die nag eet. Braai is ook 'n opsie, jy het nie elektrisiteit daarvoor nodig nie. Die hele buurt het gisteraand dieselfde idee gehad en dit was 'n fantastiese aand. Gwynneth het met die hond gaan stap en sy het rapporteer dat daar oral vuur gemaak word. 

Die storie gaan egter nie oor stupid Eskom nie maar oor die braaibroodjies. Ek het al voorheen hieroor geskryf maar moes net weer en ook paar fotos insit. 

Agmed, my suurdeeg starter, woon nou in die yskas terwyl hy nie baie gebruik word nie. Ek moet hom egter steeds so nou en dan voer. Hy was al twee weke sonder kos en ek het al gehoor hoe honger is hy. Terwyl hy uit is het ek gou 'n broodjie aangemaak vir 'n vriend wat die volgende dag sou oorkom. Die broodjie het baie mooi uitgekom. My vriend was egter ongesteld en kon nie meer oorkom nie. So wat gemaak met die broodjie? Ons doen die Keto ding en wil nie regtig daarvan eet nie. Ek kon dit weggee vir my buurman wat ek weet is gek oor die brood. 

Die redenerig was egter: Krag af teen 18:00 - het broodjie - braai - Braaibroodjies!! Jammer Daniel en Keto.

Braaibroodjies metode en bestandele

  • 1 Tuisgemaakte Suurdeeg Brood
  • Roomkaas
  • Botter
  • Uie
  • Tamaties
  • Peper
  • Sout 
  • Kaas

Die suurdeeg brood maak absoluut ongelooflike braaibroodjies. Dit is nie eers in dieselfde voedselgroep as om dit met Sasko brood te doen nie.

Die braaibroodjies is 'n beproefde metode en verg 'n spesifieke volgorde van die bestandele. Daar is method in the madness. As ek nou 'n goeie voorbeeld van sinergie moes kies is dit hierdie braaibroodjies.

Vervaardig die broodjie as volg:

  1. Sny brood
  2. Roomkaas
  3. Baie dun gesnyde uie. 'n Mandolin werk goed as jy een het. Dit moet papierdun wees. 
  4. Peper op die uie
  5. Gesnyde kaas. Die kaas vorm 'n laag tussen die uie en tamatie. Dit moet nie gerasper wees nie. 
  6. Dukkerig gesnyde tamatie op die kaas. Weereens Mandolin werk goed. 
  7. Sout op die tamatie
  8. Botter op die tamatie
  9. Sit sny brood bo-op die stapeltjie. 

Vir die braai:

Draai vinnig terwyl dit braai. Moenie dat dit brand nie! Dit is reg wanneer die eerste kaas in die vuur drup. 

My vuur was effe kwaai en ek moes omtrent soos 'n human rotisserie oppereer om dit nie te laat brand nie. Ek het ook bietjie botter gesmelt en opgesmeer aan die buitekant. Dit gee ook 'n klein veiligheidsmarge. 

Onder paar fotos van die proses.

So waar kom die olyf tapenade in die storie?

Dit was 'n eksperiment. Ek het 'n groot klomp olywe gekry en het tapenade gemaak met Anchovies, capers, lemmetjies ens. 

Een van die broodjies het ek die tamatie vervang met 'n dik laag tapenade. Die res was presies dieselfde, roomkaas, uie botter ens.

Mense dit was braaibroodjie 2.0! 

 

Groete!

Dirk



Monday 11 July 2022

Karaoke Hoenderpastei

 My buurvrou het Saterdag 50 geword. Baie geluk Karen! 

Dit was 'n karaoke partytjie en om vir Robbie Wessels te quote, daar was drank betrokke. Veral omdat dit winter is in die Kaap, met koud en reen, spesifiek heelwat rooiwyn. Rooiwyn het die merkwaardige kwaliteit dat dit nie net die koue geselig maak nie maar dit verlaag ook jou weerstand teen karaoke.

Gwynneth kan regtig mooi sing. Ek inteendeel kan nie. Toe ons nie meer die meisie met die clipboard kon ontwyk nie het ons Blouberg se Strand om die lys gesit. Dit was Gwynneth se go-to keuse voor die partytjie. Ek het gedink ek kan 'n Robbie Wessels doen maar dit was hoe ver dit gekom het. Ek was NOOIT van plan om dit met 'n mikrofoon voor almal te doen nie. 

Blouberg se Strand was mooi en nostalgies en ek en die mense waarmee ons gekuier het het gedink dit was heel ok. Soos ek se Gwynneth kan mooi sing. 

Daar was mense wat kon perform en sing en dit was regtig lekker, daar was ook die wat nie kon nie en dit was ook baie entertaining. Toe die clipboard lys deurgewerk is was daar impromptu versoeke van die gehoor en toe doen ons Robbie Wessels se Asseblief My Lief. Gwynneth het nie die song geken nie en dit was aan my oorgelaat... Die eerste vers was 'n aborsie, met ander woorde, net musiek met 'n gemompel. Dit was baie vinniger as wat ek gedink het en ek was natgesweet na die eerste vers... Met die tweede vers kry ek my ritme en doen 'n Robbie Wessels. Ek is seker dit was nie goed nie maar dis die meeste pret wat ek in 'n lang tyd gehad het. 

Die partytjie, oftewel die rooiwyn, die hamburger en tjips van die food truck en sny koek het die keto dieet opgevoeter. Sondag besluit ons dat aangesien ons nou in cheat mode is ons hoenderpastei gaan maak. Ons kan volgende week met die gevolge deal. 

Hoenderpastei

 

Die rede vir hierdie storie is eintlik om die tertkors resep en metode te deel. Dis iets wat ek nou al heelwat kere baie suksesvol gedoen het. Dis baie eenvoudig, dit neem net 10 min om te maak en dit is ongelooflik lekker.

 In kort wat mens kan onthou is dit per gewig dieselfde hoeveelheid meel as botter met bietjie asyn, sout en yswater. 

Pastei kors bestandele:

  • 250g meel of kombinasie van meel (Ek het gebruik 100g koekmeel, 100g wit brood meel, 50g Tapioka meel - Die tapioka maak dit meer crispy, my)
  • 250g botter
  • 10g sout
  • 10ml goeie asyn
  • +- 180ml yswater
  • 1 eier vir verf

Pastei kors metode:

Hierdie is eintlik makliker as wat die klink. Baie lekkerder en vinniger, dalk goedkoper ook, as om winkel deeg te gebruik. 

Die geheim is dat als moet koud wees. Sit die botter in die vrieskas vir paar minute en gebruik baie koue water. Probeer ook om so min as moontlik jou hande te gebruik. Ek gebruik 'n danish whisk vir die meng, 'n Groot vurk kan dalk ook werk.

  1. Weeg en gooi die meel en sout in 'n groot genoeg bak en meng om die sout te versprei. 
  2.  Rol die koue botter in die meel om te bedek en strooi meel oor die rasper. Dit gaan verhoed dat die botter vas sit aan die rasper en hou ook kontak van jou hande van die botter af. 
  3. Rasper die botter oor die meel. Probeer om dit so vinnig moontlik te doen sodat die botter nie kan warm word nie. 
  4. Meng die botter in die meel in. 
  5. Gooi die yswater klein bietjies op 'n slag in terwyl jy meng. Dit moet net genoeg water wees om die meel te bind. As die mengsel nog melerig lyk terwyl jy meng gooi paar druppels water in om dit te inkorporeer. 
  6. Druk die mengsel effe was om 'n bal te vorm. 
  7. Sit jou deeg op 'n meelbestrooide oppervlak om uit te rol. 
  8. Rol die deeg lank uit en vou dit in derdes. Strooi genoeg meel oor en onder sodat die botter nie op die koekroller of werkbank was sit nie. Doen dit 4 keer. 
  9. Sit die deeg in broodsakkie of bakkie en bere in die yskas tot jou pastei vulsel voorberei is. Ten minstens 'n uur maar langer is beter. 
  10. Ek gebruik omtrent die helfte vir die bak en die helfte vir die deksel vir die maak van die pastei. 
  11. Klits 'n eier met bietjie water en verf die pastei kors hiermee voor bak. Verf ook jou rante voor jy die deksel van die pastei opsit. Dit laat dit mooi bind. 
  12. Bak die pastei vir 40 - 45 min teen 180C. 

 Pastei vulsul:

Die beste is om 'n heel gaar hoender te gebruik. Woolies se Sondag special van twee gaar hoenders is die beste. Ons kon vandag nie een kry nie en het 'n heel hoender in die air fryer gedoen. 

Vir doelneindes van hierdie storie is die vulsul minder belangrik. Ons het bietjie rof gegaan en het 'n pak Simba chips in gekrummel, ham gesnipper en witsous gemaak wat als in die vulsul ingegaan het. 

Vir die vulsul wat ons voorheen gedoen het wat baie goed gewerk het is, soos bo, 'n heel hoender, 'n pakkie two-minute-noodles, sampioene, en 'n bechamel sous (witsous met kaas).

Ek het al paar keer ook die pastei kors gebruik vir worsrolletjies.

Onder ook 'n paar fotos van die metode en pastei. 

Groete!

Dirk