Wednesday 2 September 2020

Ontmoet vir Agmed

Archimedes moes vir Koning Hiero II uitpluis of van die goud wat vir sy kroon gebruik moes word dalk vervang is met silver. Korrupsie is tydloos.

Hy het in die bad geklim en opgemerk dat die water styg toe hy inklim. Een plus een is twee en hy het die gevolgtrekking gemaak dat water gebruik kan word om die volume van 'n onegalige voorwerp te meet. Hy was so opgewonde oor sy ontdekking dat hy poedel nakend in die straat afhardloop en "Eureka!" geskree het.

My suurdeeg gis monstertjie is grootgemaak op Eureka meel so net goed om hom na Archimedes te vernoem. Maar enige troeteldier moet nie 'n naam kry met vier lettergrepe nie. Twee is genoeg want hoe roep of skel jy 'n troeteldier in vier lettergrepe. Dit werk nie. 

Die monstertjie se naam is dus afgekort na Agmed (Arch(G)iMEDes. 

 

 Die suurdeeg monster is die begin van ordentlike brood. 

Suurdeeg begin bestaan uit melksuurbakterieë, wilde gis, water, meel en tyd.

Die bakterieë en gis is natuurlik in die lug en omgewing en verskil van omgewing tot omgewing. Die bekende San Francisco sourdough brood is nie as gevolg van verskillende metodes nie maar omdat die spesifieke gis in die area is wat die brood die unieke smaak gee. Ek kan net lag as ek in F&V sien hulle verkoop San Francisco sourdough brood!

Om een te begin is eintlik ongelooflik maklik:

Begin by 'n begin

Omdat dit net uit twee bestandele bestaan, meel en water is dit belangrik om die beste te gebruik wat jy kan kry. Vergeet Sasko meel. My monster wil dit glad nie eet nie. 

Ongeblykte meel sonder enige toevoegings is belangrik of nog beter gebruik stoneground meel. Hier by ons weet ek net van een plek wat stoneground sonder enige toevoegings vervaardig. Eureka Mills

As die water te veel chloor in het gebruik bottel water. Die chloor gaan die bakterieë doodmaak. Veral om die monstertjie te begin is dit dalk goeie idee om 'n bottel water te kry vir dit. Ek het altyd nog net kraan water gebruik en het nie enige probleme gehad nie. 

Volgraan meel en rye meel het blykbaar meer natuurlike organismes. Ek het myne begin met ewe veel volgraan, rye en witbrood meel.

Die proses

Die voer ek kweek proses verg altyd dieselfe gewig water en meel.

Dag 1

        50g Witbrood meel
        50g Volgraan meel
        100g Water
        Roer als net bymekaar

Dag 2

        Roer dit net en laat staan

Dag 3 - 7

        100g van jou begin monstertjie
        100g meel of kombinasie van meel
        100g water

 Teen hierdie tyd behoort jy al lank al lewe te sien.

Voedings na 7 dae

    25g monstertjie
    100g meel
    100g water

 Daar is twee fatore wat gaan beinvloed hoe vinnig die monstertjie die meel gaan eet. Die hoeveelheid monstertjie en die omgewingstemperatuur.  

Aangesien dit winter was het ek altyd meer monster gehou as die 25g aanbevole gedeelte. Die een of twee warm dae wat ons gehad het moes ek hom twee keer per dag voer. Die 25g behoort egter vir 24 uur te hou. 

Onderhoud

Die organismes in die monstertjie is ongelooflik moeilik om dood te kry. Hitte is omtrent die enigste ding. Koue en honger gaan hulle nie doodmaak nie. So moenie stres as jy 'n voeding mis nie, hy gaan net effe stadiger wees en gaan weer bykom sodra jy hom kos gee. Hy moet behoorlik mishandel en afgeskeep word om op sy eie dood te gaan. Jy hoef ook nie te stres dat dit sal afgaan nie. Die
bakterieë is baie jaloers en gaan enige ander organismes wat dalk inkom doodmaak. 

As jy nie baie brood gaan bak nie kan hy in die yskas leef. Haal hom uit en voer voordat jy dit gebruik. 'n Honger monstertjie is ook goed om te gebruik maar hoe beter jy na hom kyk en gelukkig hou hoe beter resultate gaan jy kry. 

Ek het al meer as eenmaal dit net so ongevoer uit die yskas gebruik maar gee hom net meer tyd om aan die gang te kom. 

Tips en truuks

Ek het nog nooit die oorblyfsels (discard) weggegooi nie. Ek hou dit in 'n groot pot in die yskas en meer as een keer het ek teruggeval daarop en dit gebruik in plaas van die lewendige een. Ek voer dit ook so een keer elke twee weke net om dit aan die gang te hou. Dit is baie lekker om te gebruik in enigiets wat water en meel verg. 

Vir die lewendige een gebruik ek twee potte. Een raak net 'n gemors na 'n ruk en dis moeilik om te skat wat oorbly. So om te voer gebruik ek 'n groot blik beker en gooi my gewig monstertjie in, dan die water, meng effens en gooi dan die meel in. Ek gooi dan die mengsel oor in 'n skoon pot. Sit net die deksel bo-op moenie toedraai nie, hy het suurstof nodig.

Ek teken 'n prentjie met 'n lyn sodat ek kan sien wat die aanvanklike vlak was en hoe hy gerys het. 'n Rekkie om die pot is die gewone metode om dit te doen. 'n Skoon pot gaan ook vir jou 'n aanduiding gee of hy begin terugval het. Dis 'n aanduiding dat dit gereed is om gevoer te word. 

Gebruik van die oorblyfsels

My gunsteling is pannekoeke. 

Een eier, 'n knipie sout, 'n groot eetlepel oorblyfsel en 'n bietjie melk is perfek vir twee pannekoeke. Absoluut 'n gunsteling vir 'n vinnige ontbyd. Met kerrie maalvleis en Mrs Balls is dit aandete. 


Daar is heelwat resepte vir die gebruik daarvan, van beskuit tot choc-chip-cookies. 

Ek het 'n online groep begin waar almal wat hou van suurdeeg brood bak kan saamwerk.

Join gerus!

Geniet jou monstertjie en lekker bak!

Dirk





 







 

 

 



Tuesday 1 September 2020

Brood

 


My heel eerste suurdeeg monster broodjie!

 

Om 'n suurdeeg brood te bak is moeilik, dis baie werk, daar is soveel dinge wat kan verkeerd gaan. Dis loutere nonsens! As jy eers aan die gang is is die eintlik baie eenvoudig en na my mening heelwat minder werk as om 'n gewone winkel gis brood te bak. Jou brood hoef nie perfek te wees om baie baie lekkerder as winkel brood te wees nie.

Eerstens, kyk na van die youtube videos oor sourdough bread en starter. Dit  is insiggewend en as jy dit nog nie gedoen het nie is dit goed om te sien hoe dit gedoen word. Veral hoe om die broodjie te vorm is moeilik om in teks te verduidelik. 

Van die wat ek gevind het wat baie gehelp het:

Baker Betty            - Veral die een is van begin tot einde. 

 
Amy Duska  - Ek hou van haar metode, daar is ook heelwat resepte oor wat om met die oorblyfsels van die suurdeeg voerproses te doen. 

 
Foodgeek  - Ek het baie van die tegniek geleer by die ou.

As jy van die videos kyk kan jy oorweldig word met die prosesse, ek het al die stappe neergeskryf en tye bygesit en was baie skrikkerig om selfs te begin. 

 

Die amptelike stappe - my eie vertaling

1. Levian - (Berei jou monster (starter) voor om gebruik te word)

2. Autolyse  - Meng meel en water om gluten te vorm en staan vir uur of twee

3. Voeg levian en autolyse en sout bymekaar om te begin.

4. Rus vir 30 min

5. Strek en vou - ten minstens 3 keer. 

6. Doen venster toets. 

7. Fermentasie proses - 6 ure

8. Voor vorm

9. Finale vorm

10. Proofing

11. Vertraging proses (in die yskas oornag)

12. Sny en bak. 

13. Koel af


Vereenvoudig

Die proses is egter heelwat eenvoudiger as dit as jy aan die gang wil kom:

1. Jy het 'n wakker suurdeeg monstertjie nodig. Uit die yskas of goed gevoer maak ook nie so groot verskil nie. As hy nie baie wakker is nie is die proses net bietjie langer om hom kans te gee om by te kom.

2. Autolyse maak nie so groot verskil nie. Dit is net 'n groot pyn om die starter in te meng in die deeg wat klaar is met autolyse. Meng net als onetime. Meel, water, sout en gis. 

3. As jy nie autolyse nie, laat staan vir 'n uur en doen dan drie stelle strek en vou 30 min uitmekaar. Dis eintlik baie lekker om te sien hoe die proses die deeg verander en die gis begin werk. Dit is ook baie minder werk en minder morsig as om 'n brood te knie.

4. Doen die venster toets. (Strek 'n stukkie deeg soos 'n velletjie en as jy kan deur dit sien is dit reg) Loer maar na youtube videos om te sien hoe hulle dit doen)

5. Fermentasie. Sit op 'n warm plek vir 4-6 ure. 

6. Voor vorm en vorm. (Pre shaping en shaping) Dit is seker een van die belangrikste goed om reg te kry want dit gaan beteken dat jou broodjie mooi rond uitskiet of gaan plat wees.  Dit verg bietjie oefening om die gevoel te kry. Veral die youtube videos van Foodgeek is baie goed om te sien hoe dit gedoen word.

7. Sit in die yskas oornag. Nie heeltemal nodig nie maar baie van die geur van die broodtjie word dan ontwikkel. 

8. Sny jou broodjie om beheer te hou oor waar hy gaan oop bars in die oond. 

9. Bak in 'n baie baie baie warm oond. (220C+)

10. Koel af. Moenie sny as dit warm is nie. Die struktuur van die brood gaan uitmekaar val. Wag ten minstens 'n uur maar verkieslik tot dit heeltemal afgekoel het.

Om op te som:

  • Hou jou gis monsertjie mooi aan die gang. 
  • Meng als en gee dit genoeg tyd. Doen strek en voue om die glutten mooi lank te kry. 
  • Vorm behoorlik en sny voor jy bak om dit karakter te gee.

Jou metodes en tegnieke kan verfyn word oor tyd. Daar is te veel inligting daar buite en dis maklik om oorweldig te word. 

Toerusting

Daar is twee nie onderhandelbare stukke toerusting om 'n mooi broodjie te bak. (Buiten die stoof!)

Kobuis skaal. Die verhoudings word op gewig bepaal en dis baie belangrik om die meel water en sout af te weeg. Jy het net 'n kleintjie nodig.

'n Swart pot om in te bak. Ek het 'n nommer 12 platboom swart pot gekoop as lockdown persent aan ons. Dit pas mooi in die oond en kan 'n groot brood bak. (Duch oven is waarna verwys word as jy verder oplees) Selfs sonder die pot gaan jy steeds 'n mooi brood kan bak maar dis net ongelooflik as jy die deksel afhaal en daar is die mooiste broodjie binne in. 



O ja, jy het ook bakpapier nodig!

 

Ek beoog om 'n paar poste te doen met meer detail en nuances. Volgende keer: Kweek jou eie suurdeeg monstertjie.

Hopelik is dit genoeg om iemand te oortuig dat dit die moeite werd is om die perd op te saal.

Ek het 'n online groep begin waar almal wat hou van suurdeeg brood bak kan saamwerk.

Join gerus! 

Vir die suurdeeg begin kan jy my pos hier kry

 Lekker bak!

Dirk