Friday 17 November 2023

Koos die Zombie Slayer, Aka hoe om kerrie te maak

 Ek het 'n hele ruk terug hierdie geskryf en nou weer daarop afgekom op 'n ou harde skyf en gedink dat aangesien dit 'n storie is, en daar kos betrokke is, dit is dus 'n Kosserasie Storie! Dankie vir die upgraded mak AI vir die prentjie. 

 

Die Avonture van Koos, die onwillekeurige Zombie Slayer.

Hoofstuk 1. Hoe om kerrie te maak.


Daar is baie maniere om kerrie te maak.

Daar is die kort manier, kook die vleis en of groente en moer raja kerriepoier by.

Dan is daar die ingewikkelde en lang manier waar die speserye sorgvuldig selekteer en gerooster word voordat dit met die hand fyngemaal word om die regte aroma en ingewikkeldheid aan die dis te gee. Die vleissnitte word spesiaal gekies vir geur en tekstuur.

Vannaand is dit tyd vir die vinnge metode. Daar is nie tyd vir subtiliteite en gevoelens oorweeg nie, dis in-moer tyd.

Tydens al die karate gaskus wat ek moes sit en kyk en tyd spandeer saam met 'n vorige eks se karate vriende het ek teesinig die teorie van die goed opgetel en weet dat as die geveg nie in ‘n paar sekondes verby is nie dan is ek kniediep IDK. Die ou met die mes is heelwat jonger maar ook kleiner as ek, seningrig en het ‘n waansinige uitdrukking op sy gesig. ‘n Toneel uit een van die Sherlock Holmes flieks flits deur my kop waar die held die booswig met ‘n paar doelbewuste bewegings platgetrek het. Maar my naam is nie Sherlock nie.

Die mes-ou kom stadig dreigend nader.

Wat wil jy hê?” Vra ek terwyl ek retireer soos Mes-ou vorentoe kom.

Beursie, sleutels, bloed” kom dit van Mes-ou.

Met ‘n beweging wat heelwat openente verbaas gelaat het op die muurbalbaan, ontplof ek vorentoe en stamp die aanvaller voor die bors met genoeg geweld dat ek die vrot lug kan ruik wat als op een slag uit Mes-ou se longe kom. Met ‘n geluid soos ‘n plank wat kraak, val hy met sy kop op die teer van die parkeerarea.

Ag etter!”

Mes-ou roer nie.

Ek kyk rond en besef dat niemand gesien het wat gebeur het nie. Die nag klub oorkant die pad was nie baie besig nie. My kniee wil nie heeltemal saamwerk nie en ek struikel amper op pad na die Landrover. Bewerig druk ek die immobiliser om dit oop te sluit. Ek ry vinnig uit die parkeerterein en twee blokke verder trek ek af, ek kan nie verder ry nie. Bewerig klim ek uit die Landrover en steek ‘n sigaret aan terwyl ek voor teen die enjinkap leun.

WTF?” is al wat deur my gedagtes gaan. Die nikotien begin verdryf die newels van die adrenalien en ek besef dat ek nie hier kan bly staan nie, nie met ‘n tik gebruiker wat vermoedelik dood lê in ‘n parkeerarea twee blokke weg nie.

Daleen is dalk iewers in een van hierdie hole, ek sal moet kop hou. Ek probeer nog 'n keer die redial, maar kry weereens net die voicemail.

Na twee weke het sy nou amptelik 'n status van Girlfriend; Daleen, my Doedie. 'n Warrelwind eerste twee weke. Dinge wat mens nie waag doen as jy 18 is nie, is soortvan ok as jy oor 40 is. Daleen is die oulikse meisie ooit! en dan nog slim ook. 'n Paar jaar jonger maar wie tel nou. Sy is 'n microbioloog by die Nasionale Instituut van Mediese Navorsing. Ons het ontmoet deur een van die internet dating sites. Dit was nie 'n lang online vlerkslepery soos baie van die ander voor haar was nie. Ek het geweet wat ek wou hê en sy het geweet wat sy wou hê.

Sy het vroeer vanmiddag gebel en gesê sy moet saamgaan met 'n span om ondersoek in te stel by 'n nagklub want daar was rumours van snaakse gedrag onder die locals die laaste ruk. Sy wou nie uitbrei oor dit nie maar het my gepaai en gesê sy sien my later. Ek het net voor 11 'n sms gekry: “Kom haal my asb, hier is groot moeilikheid! D”

Die nagklub waar ek met Mes-ou slaags geraak het was die tweede een wat ek by was. Die eerste een het nie veel opgelewer nie, net 'n paar studente wat die volgende dag probleme gaan hê in die klas. Daar is nog een oor wat ek wil gaan besoek maar ek is behoorlik die skrik op die lyf gehaal deur die voorval. Ek besef dat ek een of ander wapen in die hande moet kry. Die moersleutel van die Landrover is die enigste ding wat ek aan kan dink wat ek vir 'n wapen kan gebruik. Die alternatief is om terug te ry huis toe om iets te kry maar dit is nie werklik 'n opsie nie.

Die nagklub is 'n pienk gebou onder in Langstraat. Ek parkeer reg voor die pienk konstruksie en bewapen myself met die moersleutel wat ek in my baadjie se binnesak druk. Die musiek wat uit die gebou kom is nie die gewone “I see you in the club, club baby” musiek nie. Dit het 'n snaakse onegalige ritme wat my hare laat regop staan. Die straat is leeg en die aangrensende geboue is heeltemal donker. Daar hang ook nie die gewone klomp mense buite rond nie.

Versigtig gaan ek die gebou in. Binne is daar ook 'n pienk atmosfeer en die snaakse musiek is oorverdowend. Op die grondvloer is daar net 'n paar tafels en 'n kroegtoonbank met geen mense nie. Die dansbaan is op die eerste vloer en ek besef ek sal met die trappe moet op. Ek het nie 'n goeie gevoel oor wat hier aan die gang is nie. Ek hou my hand op die moersleutel terwyl ek trappie vir trappie opgaan.

Bo is daar 'n sirkel mense wat almal aandagtig aandag gee wat binne die sirkel is. Ek kan nie uitmaak wat gebeur nie en ek kom versigtig nader en probeer deur die skare kyk wat gebeur. Ten spyte van my skrikerigheid vir die situasie is ek baie nuuskierig wat hier aangaan. Iemand moer my tussen die blaaie met 'n swaar voorwerp en ek val tussen die skare in. Die moersleutel in my sak kneus my ribbes met die val. Ten spyte van die pyn op my ribbes kan ek nou sien wat binne die sirkel aangaan. Ek sal wat ek hier sien nooit in my lewe vergeet nie. Daleen lê vasgemaak op die grond. 'n Ander persoon, later sou ek uitvind dis een van haar kollegas, is in 'n poel van bloed en nie meer in een stuk nie.

Ek kom vinnig op my voete en kry die moersleutel beet. Daarna gebeur dinge baie vinnig. Die eerste een wat ek bykry is die ou wat my tussen die blaaie geslaan het. Hy gaan ook nie weer opstaan nie. Ek weet nie hoeveel ander ek bygekry het nie, maar een van hulle was die slagter. Ek het op een of ander manier die slagter-mes in die hande gekry en vir Daleen losgesny. Met die moersleutel in die een hand en Daleen in die ander het ek dit reggekry om ons daar uit te kry.

Die res van die nag het verbygevlieg. Ons moes uit die stad uit en vinnig. Ek weet nie hoeveel moeilikheid daar gaan wees na die nag nie. Ons is terug na my plek en ons het die Landrover gelaai met kampgoed, kos, klere en noodvoorrade. Daleen se plek was in die stad by die Tuine en die risiko was te groot om daar aan te gaan. Ons kan vir haar ander klere kry iewers. Na die pakkery het ons die pad gevat Weskus toe. Minder mense, oop vlaktes en hopelik nie bloedorstige druggies nie. Tussen die pakkery en ryery vertel sy my stuk stuk wat gebeur het.

Die NIMN het al 'n geruime tyd lont geruik van 'n nuwe soort Tik wat op die mark beskikbaar is. Die uitwerking daarvan is dat dit die gebruiker na die derde keer se gebruik in 'n tipe zombie verander. Asof die gewone tik gebruikers nie zombie genoeg was met hulle emosieloosheid en steel en bedrieg nie, het die nuwe Tik 'n verdere newe effek dat die gebruiker smag na bloed. Daar is ook geen genesing vir die slagoffer nie, die skade van die nuwe tik is permanent. Die pienk nagklub wat ek haar gekry het was die hoof sentrum vir die verspreiding daarvan. Sy en twee van haar kollegas het na die klub gegaan om ondersoek in te stel. Hulle is deur die slagter en sy trawante oorrompel. Haar twee kollegas het dit nie gemaak nie sy was volgende aan die beurt.

200 km buite Kaapstad stop ons by die kampeerplek. Daleen het al 'n uur tevore aan die slaap geraak. Die spanning van die nag se gebeure was te veel vir haar. Terwyl ek in die Landrover sit en na haar kyk besef ek dat dinge nooit weer dieselfde gaan wees nie.

Wat hierna gaan gebeur is nie 'n vinnige een waar jy net raja kerriepoeier kan bygooi vir 'n maklike kerrie nie, dit gaan die lang een verg.


As jy 'n kerrie resep verwag het hier is my beste een:

https://kosserasies.blogspot.com/2014/03/upmarket-lam-kerrie.html

As enigiemand belanstel in hoofstuk 2 laat weet my!

Dankie vir die lees en lekker kerrie maak!

Dirk

 

 



1 comment:

Anonymous said...

I love This! Nice twist that the zombies are drug induced. Clever .
Also the curry recipe at the end...just thrown in there 🤣