Wednesday 20 October 2010

Lamskeen Pot

Ons sou die naweek gaan kamp het... Die gedagte was om 'n pot te maak by die kamp die Saterdagaand.  'n Splinternuwe no3 swart pot. Nog net so rou van die fabriek af. So die pot moet nog eers voorberei word voor die potjie gemaak kan word. Ek skarrel toe rond om hierdie pot te probeer regkry voor die beplande kamp, maar die weer speel nie saam nie en ek het 'n dringende tand slagtery wat moet plaasvind, so die dinge gaan rof raak as ons gaan kamp. Die pot is ook nog baie grof binne en daaraan moet ook 'n plan gemaak word. Ek neem toe die pot na 'n ou wat dit vir my sandblast om die grofheid uit te kry. Dit het nie gewerk nie, die grof was net effe gladder. Ek kry toe 'n paar velletjies water-papier om dit af te skuur en 'n groot sak beesvet-goed om uit te braai in die pot...
Toe sê die weer-site dit gaan reen, maar 'n ander een sê dit gaan nie reen nie net bewolk wees. Toe gaan kamp ons nie. Toe is dit die ongelooflikste lekkerste dag Saterdag wat jy kan verwag. Almal is toe baie teleurgesteld en sommige sommer lekker moerig dat ons nie gaan kamp het nie. Maar die weer praat toe Saterdag heeldag van stormwaarskuwings aan die Atlantic Seabord waar ons wou gaan kamp vir Sondag, maar die weer is mooi? Jok die boggers alweer? Wel ons besluit toe om die splinternuwe tente in die agterplaas op te slaan, ons gaan kamp! En pot maak by die huis. En was ons Sondagoggend bly ons het nie gaan uit-kamp nie! Die weer was misluk, reen, wind. En sommige het net soos die weer gelyk. En dan is daar nog die storie van die trampolien, nee sorry opblaasmatras maar dis nog ‘n storie en miskien nie vir die blog nie.

Maar die storie gaan eintlik oor die pot! Gwynneth maak toe een aand vir ons lambshanks, maar dit was effe optimisties want die tyd was min. In alle fairness dit was my idee dat ons kos maak en nie takeaways kry nie. Dit het toe nie heeltemal so gaar gekom voor dit laat geraak het nie en ons bere dit toe maar in die vrieskas en bestel pizza. ...Maar dit was 'n ongelooflike sous en smaak, tamatie, roosmaryn, knoffel, kaneel, in die oond gebak. So gesels ons en ek besluit een of ander tyd moet ek dit probeer in 'n pot. Ek kry toe sommer heel lam skene om pot te maak as ons gaan kamp.

Voorberei van pot.
Om ‘n pot voor te berei is nogal ‘n kuns en een wat ek nie heeltemal bemeester het nie. Maar die pot het nie te sleg gekom nie. Die probleem met ‘n nuwe pot is dat dit baie grof binne is. Dit is baie grillerig om binne te krap met ‘n lepel! Nee ernstig, dit brand baie makliker as dit so grof is. Ek het nou al paar dinge probeer om dit maklik te doen maar dit lyk my nie daar is ‘n alternatief vir elbow-grease nie. Kry skuurpapier, handskoene en skuur. Ek het ‘n ou kombuis-sponsie gebruik om die skuurpapier mee vas te hou wat nogal gehelp het. Skuur dit totdat jy en almal wat help skuur gatvol is vir skuur en jy kan saamleef met hoe glad die pot binne is. Ek het my pot laat sandblast so al die blou fabriek treatment was uit wat ook nogal gehelp het.

Die ander ding wat ek glo is dat jy die yster moet ‘n olie/vet treatment gee. Ek het ‘n baie groot sak beesvet en afval vleis gekoop om die pot mee voor te berei. Maak ‘n vuur onder dit so warm soos jy dit kan kry sonder om self gekook te word as jy naby kom. Gooi daai spul vet in die pot en moenie worry van hoe dit lyk of klink nie. Braai uit tot kaaings. Kook dan ‘n kool en skil bredie na hartelus in die warm pot totdat jy dink dis nou genoeg. Maak nie saak hoe honger jy is en hoe lekker dit lyk nie, MOENIE DIT EET NIE! Die resultaat is dat die vet ingetrek het in die yster en alle ystersmaak en chemikalie is uit die pot uit. NOU kan jy pot maak!

Lamskeen pot.
Die pot is weereens Gwynneth se inspirasie. Sy't die breins en looks en idees; en die skilwerk gedoen; en ek het dit net bymekaargegooi en myself sit en jammer kry oor die tandslagtery. 

Bestandele
‘n Skeen vir elkeen
Genoeg tamaties, 8-10 grotes geskil (Jy weet, kruisie bo ingesny en in kookwater geweek)
Baie uie, 4-6 in rowwe stukke gesny
Knoffel, ook maar genoeg
Vars Roosmaryn fyngekap (half koppie)
Vars Tiemie fyngekap (half koppie)
Songedroogde tamaties (handvol)
4 kruie naeltjies
1 Stuk heel kaneel
Heel swart peper
Braaisout of gewone sout.
Botter of olyfolie
Suiker, 2 of 3 eetlepels of sherry.
Aartappels, ek gooi gewoonlik so 1,5 per persoon in.

Metode
Braai die skene een vir een in botter of olie tot lekker bruin. Haal dit uit en braai dan die uie en knoffel en kruie en speserye en songedroogde tamaties om die pot te deglaze. Gooi die tamaties in. Sit die skene terug en gooi bietjie vloeistof in. Nou moet jy nie weer vinnig vuurmaak onder die pot nie. Hoe stadiger en hoe langer dit gaan kook hoe beter. Gebruik kole (charcoal), dis makliker om so nou en dan een by te sit en die pot stadig aan die gang te hou. Wees gereed vir 2 of 3 ure as jy kan maar monitor die vloeistof en dat die pot nie brand nie. As die vleis amper reg is gooi dan die aartappels in. Gooi die suiker of sherry eers baie later in want dit mag die pot laat brand as jy dit te vroeg ingooi. Dit gesê is ‘n effe gekarimaliseerde tamatiesous wat jy wil hê. Proe maar die sous vir iets wat kort.

Bedien saam met enigiets wat die sous gaan justice doen.

Bon Appetit!
Dirk




Salm

Een van die baie dinge wat uitstaan deur vir Gwynneth in my lewe te gekry het is dat sy my leer salm eet het. Norwegiese Salm. (of dan nou soos algemeen bekend as Norwegian Salmon)

Ek kan met alle eerlikheid se dat geen stuk beesvleis vir my ooit lekkerder was as 'n lekker stuk salm nie. Die prys daarvan skrik jou af eerstens om dit te koop en tweedens is dit intimiderend om dit gaar te maak. En hierin is daar 'n paradoks, want dit is eintlik baie baie makliker om te maak en baie baie baie lekkerder as enige ander vleis of vis. So in stede van uiteet, probeer dit een slag. 'n Stuk salm en groentes by Woolies gaan jou dieselfde kos as twee cheeseburgers en milkshakes by die Spur. Die Woolies in die waterfront hou gewoonlik vars salm aan en dis omtrent R199 per kg. (Ek het mos gesê die prys is afgryslik) Omtrent R140 vir 'n tweeman-stuk.

Om dit gaar te maak:

Sit die gril (boonste oondrooster) aan.
Smeer die salm met gerasperde suurlemoenskil, sout en olyfolie. (Of gebruik jou verbeelding)
Druk onder die gril in.
Haal dit uit wanneer dit effe bruin en "gebak" lyk aan die bokant. Omtrent 10min of minder.
MOENIE te gaar maak nie, dit moet NIE "doodgebraai" wees nie. Dit moet net begin flake.

Bedien saam met suurlemoen, aartappeltjies en gestoomde groente.

As jy iemand wil bederf, dis 'n baie baie baie beter idee as 'n hamburger en chips!!
Geniet dit!
Dirk