Sunday 4 September 2022

See Kos

 Ek wou eers die titel van die pos "Vankansie Kos" genoem het maar besef toe ek gaan dalk by die werk in die moeilikheid kom. Ek was nie met vakansie nie, ek het gewerk. Ons was wel by die see en ek het my kantoor in my laptop sak saamgeneem. Dit het egter gevoel soos 'n vakansie maar ook nie.

Buiten dat ek 'n fantastiese view gehad het uit my kantoor venster, daar net vriendelike mense was, jy heeldag die see kon ruik en hoor, dit salig vreedsaam, daar baie baie meer sterre in die hemelruim was en geen fiber internet was nie, was dit presies dieselfde.


 Ek dink daar vas net 'n handjie vol mense die week op Gouritzmond.

Daar was ons twee, 'n hippie couple wat elke sonsopkoms en sonsondergang op die bankie voor ons huis kom sit en koffie drink het. Die outjie by die local algemene handelaar wat vir my visgerei afgesmeer het. Ek vang nie vis nie jy sien en dit het so idilies gelyk dat ek ook wou probeer. Nadat ek langer as 'n uur gesukkel het om die lyn op die katrol te kry, die katrol gebreek het in die proses en gaan omruil het vir nog een, het ek toe wel een aand na werk in die yskoue wind gaan probeer vis vang by die rivier mond. Hulle het net my aas afgevreet so vinnig as wat dit water gevat het en ek het nie 'n vis gesien nie. 


 Daar was ook 'n paar aftrede mense en hul honde wat elke oggend verby gestap het en gegroet het. Daar was die een dame in haar kleurvolle cammo gym uitrusting wat met 'n speedwalking styl verby gegly het en haar skaaphond wat die pad voor bespied het, sy het nie gegroet nie. 

Daar was ook 'n paar mense met hulle 4x4's, met visstokke gelaai, wat teen sonsopkoms verbygery het op pad om te gaan hengel. Hulle het wel hand gelig as hulle jou sien koffie drink op die stoep 7 uur in die oggend. 

Die local groot visserman wat ons kontak was vir vis dink ek was ook nie eers daar die week nie want ons het gevra hy moet ons laat weet wanneer hy vars vis gevang het en ons het nou nog nie van hom gehoor nie. 

 Daar was ook die ou by die local watergat wat sy klante by die deur inwag en aan ons 'n bottel rooiwyn en 'n bottel bier verkoop het. 

Daar was die ongelooflike klein biblioteek waar Gwynneth gaan boeke uitneem het. Die meisie het haar van geen kant af geken nie maar het aangebied dat sy boeke sommer op haar naam kan uitneem vir die week.

O ja, ek het vergeet van die vriendelike plaaslike vissermanne met al hul gerei oor hulle skouer wat vertel het waar die beste plek is om vir Mosselkrakers en Kabeljou te hengel. Ek het my leftover pichards en rooiaas aan hulle geskenk toe ons huis toe is. Hulle het belowe om vir my 'n vis te hou as hulle iets vang met die aas. 

So dit maak 16 mense wat ek getel het.

Ek het die verskriklikste hooikoors gehad die week en moes noodgedwonge in werkstyd Mosselbaai toe ry om medikasie te kry. Terwyl ek nou daar was en die Gourits visserman m.i.a. was het ek ook gou hawe toe gegaan en twee baie mooi vars kabeljoue gekry. Een daarvan het ons gebraai met vars-tiemie-origanum-knoffel-en-suurlemoen-botter. Ek weet nie of daar lekkerder vis in die see is nie.

Ons het vier keer die week gebraai onder moeilike weersomstandighede. Wind en koue. Die laaste aand was die weer mooi en was 'n baie naby tweede plek aan die kabeljou-braai. Ek moet vertel van die groot swart mushrooms wat ons gebraai het. Ons het 'n baie belee camembert kasie gehad wat een van die dae sou begin praat het as ons hom nie iets mee gedoen het nie. Nadat ek die dodgy rantjies afgesny het is die binne die mushrooms saam met 'n stukkie knoffel, botter en ook stukkie feta kaas. Weet nie of dit die rooiwyn was waarmee dit gepaar is nie maar dit was hemels. 


 Ons het ook hoenderpastei gemaak. Sien my posserasie oor hoenderpastei. Dit smaak net anders by die see. 

Maar hierdie is eintlik 'n kos blog en wat ek eintlik wou deel is die baguets resep. Dit is die beste van suurdeeg brood bak. Jy het nie 'n dutch oven nodig nie, dit kan dieselfde dag gemaak word en die hele ding is soos die korsie wat almal oor baklei van die vars brood. 


 Baguets

Ek dink ek het die baguete bak proses nou al so mate vereenvoudig sodat die maklik doenbaar is. Ek het 'n heel paar keer gemaak en dit kom elke keer lekker uit. Die verskil tussen dit en brood bak is dat die baguets 'n baie lae hidrasie het en heelwat meer suurdeeg starter kry. Dit hoef dan nie oornag in die yskas te bly om sy beste te gee nie.

Die proses is dieselfde as vir normale suurdeeg brood, ek gaan nie almal verveel om dit te herhaal nie, ek het vorige poste hieroor gedoen.

Meng, autolise, strek en vou en bulk fermentasie. Van aanmaak tot bak is omtrent 8-10 uur.  Die deeg is egter baie stywer en strek en vou werk dalk makliker as jy hom uit die bak uithaal en dan rek en strek om die gluten te rek.

Die ratios en hoeveelhede vir vier baguets:

  • Meel 100% - 500g
  • Suurdeeg gis 80% - 400g
  • Water 50% - 250g
  • Sout 2,4% - 12g

Aangesien dit nie in 'n duch oven (swart pot) gebak word nie het jy stoom nodig in die oond om die beste uit hulle te kry. Ek gebruik 'n bak met paar kombuis lappe in en kookwater daarop in die oond om stoom te gee. 

 Bak teen 240+ C vir 15 min met die stoom en nog 8-10 min teen 220C.

Daar is twee stukkies toerusting wat in my opinie egter kardinaal is vir baguets. 'n Couche en 'n baguete pan. 

 'n Couche is basies 'n lap wat jy gebruik om dit sy ronde vorm te gee. Ek kon nie die aanbevole flax linne kry nie en het ongebleikte linne dubbeld gevou om te gebruik. Dit werk perfek. Die baguete pan word deur paar plekke verkoop. 

 Ek beoog om 'n volgende keer die stappe met fotos in detail op te sit. 

 Met ons eerste braai by die see kon ons nie die oond behoorlik aan die werk kry nie en die wind het die vuur in so mate verwaai dat daar nie genoeg kole sou wees om mee te braai as ons nie 'n plan maak nie. Ek het toe van die baguete deeg op die vuur gebraai soos roosterkoeke en lesse geleer in die proses. 
Met die volgende braai het ek foelie onder gesit en 'n foelie tent gemaak. Dit het soos 'n bom gewerk. 

 
Ek het ook met die trip my vir nig Elize en oom Manie herontmoet, ons het dekades laas enige kontak gehad en dit was wonderlik om te sien dat ons soveel in gemeen het en dit is lekker om weer bande op te bou met familie. Dankie vir die resep vir die lae koolhidraat brood en meel mengsel Elsabe!

Groete

Dirk