Saturday 16 July 2022

Olyf tapenade Braaibroodjie

 Die donnerse Eskom. Hulle het ons nou al in 'n Stockholm syndrome. Ons is daadwerklik DANKBAAR as hulle die slag ons krag aanskakel. 

Die ergste tydgleuf is die 18:00 tot 20:30 een. Dis gewoonlik wanneer ons aandete maak. So ons moet voor 6 klaar wees of eers in die middel van die nag eet. Braai is ook 'n opsie, jy het nie elektrisiteit daarvoor nodig nie. Die hele buurt het gisteraand dieselfde idee gehad en dit was 'n fantastiese aand. Gwynneth het met die hond gaan stap en sy het rapporteer dat daar oral vuur gemaak word. 

Die storie gaan egter nie oor stupid Eskom nie maar oor die braaibroodjies. Ek het al voorheen hieroor geskryf maar moes net weer en ook paar fotos insit. 

Agmed, my suurdeeg starter, woon nou in die yskas terwyl hy nie baie gebruik word nie. Ek moet hom egter steeds so nou en dan voer. Hy was al twee weke sonder kos en ek het al gehoor hoe honger is hy. Terwyl hy uit is het ek gou 'n broodjie aangemaak vir 'n vriend wat die volgende dag sou oorkom. Die broodjie het baie mooi uitgekom. My vriend was egter ongesteld en kon nie meer oorkom nie. So wat gemaak met die broodjie? Ons doen die Keto ding en wil nie regtig daarvan eet nie. Ek kon dit weggee vir my buurman wat ek weet is gek oor die brood. 

Die redenerig was egter: Krag af teen 18:00 - het broodjie - braai - Braaibroodjies!! Jammer Daniel en Keto.

Braaibroodjies metode en bestandele

  • 1 Tuisgemaakte Suurdeeg Brood
  • Roomkaas
  • Botter
  • Uie
  • Tamaties
  • Peper
  • Sout 
  • Kaas

Die suurdeeg brood maak absoluut ongelooflike braaibroodjies. Dit is nie eers in dieselfde voedselgroep as om dit met Sasko brood te doen nie.

Die braaibroodjies is 'n beproefde metode en verg 'n spesifieke volgorde van die bestandele. Daar is method in the madness. As ek nou 'n goeie voorbeeld van sinergie moes kies is dit hierdie braaibroodjies.

Vervaardig die broodjie as volg:

  1. Sny brood
  2. Roomkaas
  3. Baie dun gesnyde uie. 'n Mandolin werk goed as jy een het. Dit moet papierdun wees. 
  4. Peper op die uie
  5. Gesnyde kaas. Die kaas vorm 'n laag tussen die uie en tamatie. Dit moet nie gerasper wees nie. 
  6. Dukkerig gesnyde tamatie op die kaas. Weereens Mandolin werk goed. 
  7. Sout op die tamatie
  8. Botter op die tamatie
  9. Sit sny brood bo-op die stapeltjie. 

Vir die braai:

Draai vinnig terwyl dit braai. Moenie dat dit brand nie! Dit is reg wanneer die eerste kaas in die vuur drup. 

My vuur was effe kwaai en ek moes omtrent soos 'n human rotisserie oppereer om dit nie te laat brand nie. Ek het ook bietjie botter gesmelt en opgesmeer aan die buitekant. Dit gee ook 'n klein veiligheidsmarge. 

Onder paar fotos van die proses.

So waar kom die olyf tapenade in die storie?

Dit was 'n eksperiment. Ek het 'n groot klomp olywe gekry en het tapenade gemaak met Anchovies, capers, lemmetjies ens. 

Een van die broodjies het ek die tamatie vervang met 'n dik laag tapenade. Die res was presies dieselfde, roomkaas, uie botter ens.

Mense dit was braaibroodjie 2.0! 

 

Groete!

Dirk



Monday 11 July 2022

Karaoke Hoenderpastei

 My buurvrou het Saterdag 50 geword. Baie geluk Karen! 

Dit was 'n karaoke partytjie en om vir Robbie Wessels te quote, daar was drank betrokke. Veral omdat dit winter is in die Kaap, met koud en reen, spesifiek heelwat rooiwyn. Rooiwyn het die merkwaardige kwaliteit dat dit nie net die koue geselig maak nie maar dit verlaag ook jou weerstand teen karaoke.

Gwynneth kan regtig mooi sing. Ek inteendeel kan nie. Toe ons nie meer die meisie met die clipboard kon ontwyk nie het ons Blouberg se Strand om die lys gesit. Dit was Gwynneth se go-to keuse voor die partytjie. Ek het gedink ek kan 'n Robbie Wessels doen maar dit was hoe ver dit gekom het. Ek was NOOIT van plan om dit met 'n mikrofoon voor almal te doen nie. 

Blouberg se Strand was mooi en nostalgies en ek en die mense waarmee ons gekuier het het gedink dit was heel ok. Soos ek se Gwynneth kan mooi sing. 

Daar was mense wat kon perform en sing en dit was regtig lekker, daar was ook die wat nie kon nie en dit was ook baie entertaining. Toe die clipboard lys deurgewerk is was daar impromptu versoeke van die gehoor en toe doen ons Robbie Wessels se Asseblief My Lief. Gwynneth het nie die song geken nie en dit was aan my oorgelaat... Die eerste vers was 'n aborsie, met ander woorde, net musiek met 'n gemompel. Dit was baie vinniger as wat ek gedink het en ek was natgesweet na die eerste vers... Met die tweede vers kry ek my ritme en doen 'n Robbie Wessels. Ek is seker dit was nie goed nie maar dis die meeste pret wat ek in 'n lang tyd gehad het. 

Die partytjie, oftewel die rooiwyn, die hamburger en tjips van die food truck en sny koek het die keto dieet opgevoeter. Sondag besluit ons dat aangesien ons nou in cheat mode is ons hoenderpastei gaan maak. Ons kan volgende week met die gevolge deal. 

Hoenderpastei

 

Die rede vir hierdie storie is eintlik om die tertkors resep en metode te deel. Dis iets wat ek nou al heelwat kere baie suksesvol gedoen het. Dis baie eenvoudig, dit neem net 10 min om te maak en dit is ongelooflik lekker.

 In kort wat mens kan onthou is dit per gewig dieselfde hoeveelheid meel as botter met bietjie asyn, sout en yswater. 

Pastei kors bestandele:

  • 250g meel of kombinasie van meel (Ek het gebruik 100g koekmeel, 100g wit brood meel, 50g Tapioka meel - Die tapioka maak dit meer crispy, my)
  • 250g botter
  • 10g sout
  • 10ml goeie asyn
  • +- 180ml yswater
  • 1 eier vir verf

Pastei kors metode:

Hierdie is eintlik makliker as wat die klink. Baie lekkerder en vinniger, dalk goedkoper ook, as om winkel deeg te gebruik. 

Die geheim is dat als moet koud wees. Sit die botter in die vrieskas vir paar minute en gebruik baie koue water. Probeer ook om so min as moontlik jou hande te gebruik. Ek gebruik 'n danish whisk vir die meng, 'n Groot vurk kan dalk ook werk.

  1. Weeg en gooi die meel en sout in 'n groot genoeg bak en meng om die sout te versprei. 
  2.  Rol die koue botter in die meel om te bedek en strooi meel oor die rasper. Dit gaan verhoed dat die botter vas sit aan die rasper en hou ook kontak van jou hande van die botter af. 
  3. Rasper die botter oor die meel. Probeer om dit so vinnig moontlik te doen sodat die botter nie kan warm word nie. 
  4. Meng die botter in die meel in. 
  5. Gooi die yswater klein bietjies op 'n slag in terwyl jy meng. Dit moet net genoeg water wees om die meel te bind. As die mengsel nog melerig lyk terwyl jy meng gooi paar druppels water in om dit te inkorporeer. 
  6. Druk die mengsel effe was om 'n bal te vorm. 
  7. Sit jou deeg op 'n meelbestrooide oppervlak om uit te rol. 
  8. Rol die deeg lank uit en vou dit in derdes. Strooi genoeg meel oor en onder sodat die botter nie op die koekroller of werkbank was sit nie. Doen dit 4 keer. 
  9. Sit die deeg in broodsakkie of bakkie en bere in die yskas tot jou pastei vulsel voorberei is. Ten minstens 'n uur maar langer is beter. 
  10. Ek gebruik omtrent die helfte vir die bak en die helfte vir die deksel vir die maak van die pastei. 
  11. Klits 'n eier met bietjie water en verf die pastei kors hiermee voor bak. Verf ook jou rante voor jy die deksel van die pastei opsit. Dit laat dit mooi bind. 
  12. Bak die pastei vir 40 - 45 min teen 180C. 

 Pastei vulsul:

Die beste is om 'n heel gaar hoender te gebruik. Woolies se Sondag special van twee gaar hoenders is die beste. Ons kon vandag nie een kry nie en het 'n heel hoender in die air fryer gedoen. 

Vir doelneindes van hierdie storie is die vulsul minder belangrik. Ons het bietjie rof gegaan en het 'n pak Simba chips in gekrummel, ham gesnipper en witsous gemaak wat als in die vulsul ingegaan het. 

Vir die vulsul wat ons voorheen gedoen het wat baie goed gewerk het is, soos bo, 'n heel hoender, 'n pakkie two-minute-noodles, sampioene, en 'n bechamel sous (witsous met kaas).

Ek het al paar keer ook die pastei kors gebruik vir worsrolletjies.

Onder ook 'n paar fotos van die metode en pastei. 

Groete!

Dirk

 


















Thursday 23 June 2022

Oor Hoender vlerkies

Ek het oor tyd 'n hoendervlerkie resep/metode wat ons goto is vir vinnige kosmaak of vliek aand. Ek het gedink dis hoog tyd dat ek dit dokumenteer. Veral na my ongekende sukses van my vorige blog pos.

Hier is ook bietjie van 'n aanloop en filosofie agter hierdie vlerkies. Ek weet daar is ongetelde resepte en metodes vir chicken wings, Google dit net bietjie en kyk na die prentjies. Met alle nederigheid wil ek noem dat hierdie beter is as wat ek nog andersins gehad het. 

Die gedagte is dat die vlerkies met 'n droë meel en speserye mengsel bedek word en so gebak word. Net voor dit klaar is smeer jy botter oor die vlerkies en bak to crispy. Dis die kort weergawe. 

Vorige weergawes van my droë mengsel het bestaan uit meel, sop poeier, 'n variasie van speserye, vars chillies of kombinasie daarvan. Die meel was die belangrike bestandeel want dit gaan die botter absorbeer en dit heerlik crispy maak. 

Ons doen mos nou egter die lae koolhidrate/keto ding en meel in hoeveelhede is uit. Ek wou nuwe manier kry om dit te doen. Ek het van die normale lae koolhidrate alternatiewe gebruik en 'n paar beswaarlik eetbare weergawes gehad. Dit werk net nie dieselfde nie. 

Tapioca meel is die geheime bestandeel. Dit het minder as die helfte van die koolhidrate van gewone meel en die resultate is beter. Dit verg ook net twee telepels Tapioca meel wat net 'n gram of drie koolhidrate bevat. 

Die volgende belangrike aspek is die speserye mengsel en chillie oorweging

Persoonlik kan dit nie warm genoeg wees nie. Ek het dit al met 'n reaper, ghost chillies, scorpion chillies en diesulkes gedoen. Gewoonlik maak ek twee batches, een vir die armsalige mense wat dink chillies is evil. 'n Klein bietjie Cayene peper is die minste as jy nie capsicum kan hanteer nie. 

Ek hou van om met speserye en kruie te eksperimenteer en my laaste weergawe wat ek onder uiteensit was net eenvoudig die beste. Van die speserye onder mag dalk bietjie eksoties klink as jy nog nie gebruik het nie maar dit is die moeite werd om te probeer en dit is geredelik beskikbaar by die meeste supermarkte.

Die metode is egter wat hierdie vlerkies so besonder maak. Hulle word net so droog gebak en word nie gedraai nie. Die droë meel en speserye mengsel hou al die juices binne en jy gaan nie uitgedroogde of ondergaar vlerkies kry nie. Die botter voor die klaar is is belangrik om die meel nat te maak en die crispy buitekant te kry. 

Hoender vlerkies

Die volgende mengsel is goed vir omtrent 12-15 vlerkies. 
  • 1 en half Teelepel Sichuan peper 
  • 1-2 Teelepels gedroogde knoffel vlokkies
  • 2-3 Teelepels gedroogde uie flokkies
  • 1 Teelepel gedroogde pietersielie (Parsley)
  • 3 Kruie Naeltjies (Cloves)
  • 1 gedroogde super warm chillie - of minder warm gedroogde chillie - of o weë bietjie cayene peper
  • 1 Teelepel Aromat - of sout of soortgelyk
  • 2 Teelepels Tapioca meel
  • Botter vir smeer

Nota, my teelepels bo is net omdat ek 'n teelepel gebruik het, nie omdat dit 5 ml is nie! Opgehoopte teelepels. 

 Metode vir speserye

Sit al die bestandele in 'n vinnige blender en verwerk tot die heel speserye heeltemal fyn is. Ek is seker die fyn weergawes gaan ook goed werk. Ek weet egter nie of jy Sichuan peper fyn kry nie. Pestel en morter gaan werk daarvoor. Ek verkies egter die heel speserye en die heel gedroogte chillies. 

Metode vir Vlerkies

Sit vlerkies in 'n bak met 'n deksel wat dig kan seel of sakkie. Gooi die meel speserye mengsel oor en skud tot die vlerkies heeltemal bedek is. 

Metode vir Gaarmaak -Air Fryer
My air fryer (Kry een!) neem omtrent 12 vlerkies. 
Pak die meel bedekte vlerkies in enkele laag. Dit gaan nie gedraai word nie. 
Bak net so droog vir 22 minute teen 175 Celcius. 
Smeer gesmelte botter met kwassie bo-oor en bak vir nog 8 - 10 minute.
 
Metode vir Oond
Voor die air fryer het ons dit altyd in die oond gedoen en dit kom net so goed uit. 
Smeer of spuit 'n oond bak en pak die vlerkies styf teen mekaar in. 
Bak vir 50 minute teen 180 Celcius sonder om te draai.
Smeer met botter
Bak vir nog 10 minute. 
 
'n Sny brood wat in die bak gesmeer word as die vlerkies uit is is 'n belangrike ekstra. Of as jy lae koolhidrate doen dan kan tipiese roer-braai groente ook deur die oorblyfsels geroer word en vir rukkie terug gesit word in die oond. 
 
Laat weet gerus in die kommentaar as iemand hierdie probeer het!
 
Mooibly
Dirk

 



Tuesday 21 June 2022

Koolhidrate

 Oor Koolhidrate en kosmaak

Covid, lockdown, van die huis af werk en lekker kosmaak het my toestand bietjie verswak en ek moes redelik dringend 'n plan maak. Ons besluit toe om die "low carb" ding te doen. Noem dit Keto, LCHF, banting of hoe ook al, die gedagte is om die koolhidrate uit te sny. 

Tot dusver is die resultate uitstekend. Meer energie, meer klere in die kas wat pas en net 'n algemene gesondheids verbetering. 

Ongelukkig sluit die koolhidrate voedselgroep die sourdough brood in. Dis nie noodwendig 'n slegte ding nie want ek bak elke twee weke vir ons 'n broodtjie of baguettes en dit is dan lekkerder as ooit! Met hierdie tipe eetery is die tekstuur van die brood die een ding wat ek mis. Dit kan net nie met enigiets vervang word nie. 

Ek wil vandag 'n resep deel van een van die lekkerste geregte wat ek in 'n baie lang tyd gehad het. Ons het gisteraand 'n tamatiesop gemaak. Daar is egter 'n hele aanloop hierna wat ek eers wil verduidelik. 

Aftreksel (Broth)

Die eerste bestandeel vir hierdie fantastiese sop is 'n been aftreksel wat nou 'n stapel voedsel by ons is. Dit kan bees, skaap of hoender wees. Ek het nog nie die moed gehad om 'n vis een te maak nie maar dit is op die lys.

Die proses is om die hel uit vleis bene uit te kook en dan al die solids uit te sif en te strain. 

My metode en bestandele vir rooivleis:

  • Klomp bene (tot 1kg)
  • Water (soveel soos jou pot toelaat)
  • Eetlepel of twee goeie asyn
  • Groen groente - Enige gaan werk maar dink aan die smaak wat dit gaan gee aan die broth. 
    • Bv Kale, Seldery, Spinasie ens
    • 'n Wortel (Dit gaan uitgehaal word so moenie worry oor die koolhidrate nie)

Was eers die bene behoorlik om alle ou bloed ens af te was. As dit nie genoeg is nie doen dan die volgende:

In a groot pot met baie water kook die bene baie hard en skep alle skuim af. Sodra daar geen meer skuim gevorm word nie haal al die bene uit. 

Bak die bene in warm oond of air fryer met bietjie sout tot die bruin is. 

Plaas hulle terug in die vloeistof en sit jou groente en asyn by. 

Ek kook myne in 'n stoompot vir twee en 'n half ure wat my omtrent 2 liter gee as dit klaar is.

Haal al die solids uit en gee vir die hond. Strain die vloestof deur 'n lappie om dit mooi skoon te kry. 

Sit in 'n houer in die yskas. As dit koud is haal die laag vet af wat bo-op gevorm het. Dit kan vir iets anders gebruik word.

As jy dit reg gedoen het dan is die broth in die yskas soos jellie. 

Vir hoender broth is die baie dieselfde. Gebruik egter 'n heel hoender of stukke en braai dit in die oond tot gaar.

Ek doen die broth ding heel party keer vir ontbyd: Maak 'n koppie vol in die mikrogolf oond warm met bietjie sout, chillie en wat ook al geursels by waarvoor jy lus is. Gemmer, borrie of ander spices werk goed. Selfs 'n klein bietjie room by is verskriklik lekker. 

Tamatiesop

  • 4 - 5 Groot ryp tamaties (Ons het Roma tamaties gebruik)
  • 1 Rooi Soetrissie
  • 1-2 knoffel huisies
  • Vars kruie - opsioneel (Tiemie, origanum ens. Wat jy ookal die tuin het. Droe kruie kan seker ook werk)
  • 750ml Broth (Sien bo)
  • Sout en peper 
  • Chillie 
  • 1 ui

Metode 

Een van die beste aparate wat ek nog in die kombuis gebruik het is 'n air fryer. Dis soos 'n oond op turbo. Gebruik minder krag en neem 'n fraksie van die tyd. My aanbeveling is om een te kry as jy nie het nie. Hierdie kan in die oond gemaak word maar dit gaan sukkel om hoeveelheid geur in te kry as wat die vinnige hitte van die air fryer kan doen. Miskien kan ons 'n petiesie doen sodat Eskom dit kan subsidieer. 

Bak die soetrissie tot dit heeltemal swart is. Laat staan in bakkie met deksel of sakkie om te sweet en vee die buitenste skilletjie af as dit afgekoel het tot jy die kan hanteer. 

Sny die tamaties middel deur en sit met skil kant na onder in die air fryer. Smeer bietjie olyfolie op en strooi sout bo-op. Bak totdat die mooi verkleur het en effer verdroog het. 

Skil en sny die knoffel in flinders en sit in bakkie met olyfolie. Bak in air fryer tot hulle crispy en bruin is. Hulle kan maklik brand so moet dit nie te ver neem nie. 

Kerf en braai die uie en chillie in die pan. Ons het 'n baie cute klein pink peach reaper chillie gebruik. 

 Sit al die voorbereide bestandele saam met broth in 'n pot en kook vir 'n paar minute. 

Gebruik 'n hand blender om als fyn te maak. Voila!

Gremolata

Ons het nog 'n stukkie sourdough brood oor gehad wat op die kas gestaan het. Al so drie dae oud. Perfek vir gremolata. Die air fryer het ook hierdie na 'n ander vlak geneem. Een sny het ook darem nie genoeg koolhidrate om die appel kar om te gooi nie en dit was absoluut wonderlik saam met die sop. 

Metode en bestandele:

  • 1-2 snye ou sourdough brood (vars kan ook werk)
  • 1 heel stuk harde kaas (Pecorini of parmesaan)
  • 1 heel stuk Belee cheddar kaas.
  • Vars origanum

Blend alles to krummels en bak in oond of air fryer tot goudbruin. 

Variasie op die Gremolata is om ook 'n rou knoffel huisie saam te blend en ander vars kruie werk ook goed veral Basilie kruid.

Hierdie crunchie geurige souterige krummels was die Pièce de résistance by die sop!

 

Mooibly

Dirk









Tuesday 8 March 2022

Suurdeeg brood. Lesse geleer, tips en truuks

 Ek bak nou al vir omtrent 18 maande suurdeeg brood en het baie baie selde 'n brood gekoop sedert dan.

Agmed is nog baie goed aan die gang maar bly deesdae in die yskas. Dit is net makliker want ek gaan beslis nie elke dag vir die honger ding kos gee nie. As hy op die kas leef en jy skip net twee dae dan is hy ontsteld. 

 In die jaar en 'n half het ek heelwat geleer en ge-eksperimenteer oor die gis, bakmetode, sny van die deeg, temperature ens. 

My stappe is eintlik baie eenvoudig en verg nie baie tyd nie. Hier is hoe my tipiese brood bak sessie verloop. 

Tipiese baksessie

1. Haal Agmed uit die yskas uit. Kyk hoe lyk sy toestand. As ek hom 'n week of langer nie gebruik het nie dan is daar ekstra stappie. Ruik dit altyd. As hy goed ruik, effe suur maar nie sleg nie is hy ok. Selfs al het hy 'n lagie vloeistof bo-op gemaak van lank staan is hy nog steeds hankie dorie. 

2. Gebruik hom net so as hy nog vars is. Gebruik dan net louwarm water in die aanmaak prosses om hom gouer te laat bykom. As hy biejie af is voer hom eers voor jy die brood aanmaak. Gebruik omtrent 100g starter, 100g water, 100g meel as jy hom appart voer en gee hom paar uur om by te kom. Tussen 4 en 6 ure maar jy sal sien as hy opgetel het. 

3. Maak die brood aan Ek het effe lui geraak en gebruik nou 1kg meel om aan te maak. Dit bak twee brode. Een dadelik en die ander een kan tot twee dae in yskas staan voor jy hom bak. Of maak pizza van die ekstra een. 

    Die ratios: (70% hidrasie)

  • 1kg meel  
  • 700g water   
  • 200g starter (Agmed) - Of alles wat ek appart aangemaak het. As ek dit doen gebruik ek bietjie minder water om die hidrasie reg te hou. 650g-680 wate
  •  20g sout.
    Meng als goed deur. Ek gebruik 'n danish wisk. Die beste ding ooit vir dit. 

  4. Voer wat oorbly van Agmed. Aangesien hy in die yskas bly en ek hom net genoeg voer om genoeg te he vir die volgende bak sessie is daar geen oorblyfsels nie. 100g meel 100g water. Laat staan vir omtrent 6 ure op die kas voor hy weer terug gaan yskas toe. 

5. Autolese deeg en strek en voue. Vir die water en meel om gluten te maak laat staan ek dit vir omtrent twee ure. Doen 'n strek-en-vou. Doen dan nog ten minstens twee keer halfuur tot uur uitmekaar. Dis ongelooflik om te sien hoe die tekstuur van die deeg verander oor die loop van 2-3 ure.

Om aparte autolese te doen voor jy die gis bygooi is na my mening 'n mors van tyd en dit is 'n gemors om die starter in te kry in die deeg nadat dit gestaan het.  Dit maak geen verskil nie.

6. Vorm deeg en yskas toe. Dit neem omtrent 6 ure, of korter op baie warm dae, vir die deeg om reg te wees vir die yskas. 

7. Bak. Ek maak eers my oond en pot warm genoeg voor ek die deeg uit die yskas haal. Hoe kouer hy is hoe makliker hou hy sy vorm. Ek sal as hy bietjie oorgefermenteer is of hidrasie bietjie hoog is hom sommer in die vrieskas sit terwyl die oond warm word. 

As die oond en pot warm genoeg is, in my oond omtrent 30-40 min, dan gebeur die volgende baie vinnig:

  • Haal deeg uit yskas
  • Keer op bakpaier om
  • Sny die deeg.
  • Sit in warm pot. 
  • Spuit met waterkannetjie sop nat. 
  • Sit deksel op en in die oond. 
  • Bak vir 20 min met deksel op en 20 min met die deksel af
  • Haal uit en sit op rakkie om af te koel
  • Ek laat hom ten minstens 'n uur staan voor ek hom sny maar die temptasie is gewoonlik te groot!
Ek het 'n nuwe Smeg oond maar sy oond is baie swak en die temperatuur is nie soos ek gehoop het nie. Ek wil ten minstens 240-250C kry. Ek sit dit dus op vol terwyl ek die pot warm maak en draai dit effe af as ek dit insit. Ek skat dit kom dan naby daaraan. 'n Goeie thermometer sal help maak hulle is skaars.

Toerusting en perifinalias.

  • Goeie oond. Dis nie so maklik nie. Die nuwe oonde is eintlik baie swak. Maar doen maar wat jy kan. 
  • Duch oven. Ek gebruik 'n groot platboom swart pot om in te bak. 
  • Danish wisk. Google dit. Ek is nog nie oomblik spyt ek het een gekry nie. 
  • Lame. Ek het een uit hout gemaak. Sny gleufie en sit lemmetjie in met 'n boudjie. 
  • Bakpapier. Dis 'n moet.
  • Rysmeel en shaker. Ook 'n moet om die brood in die yskas te sit. 
  • Spuitkannetjie om deeg nat te spuit voor dit in die oond gaan. 
  •  Bak vir brood rys. Ek het groot dursigtige vierkantige pastiek bak met deksel gekry. Makliker om strek en voue te doen en om te sien wat gebeur. 
  • Bak vir yskas. Ek het 'n stainless steel bakkie wat net groot genoeg is vir deeg. 
  • Kleefpapier om bak vir yskas te bedek. 
  • Kombuis lappies om die die brood in te sit vir die yskas sessie.

Lesse geleer

  •  Hou die suurdeeg starter in die yskas en haal hom uit as jy hom wil gebruik. Elke dag voer is nie nodig nie. 
  • Om 'n goeie brood te kry:
    • Hou hidrasie 70% of onder. 
    • Moenie dit laat oor fermenteer nie. Sit eerder vroeer in die yskas as later. 
    • Kyk na die oond se temperatuur. 
    • Vorm die brood reg voor hy yskas toe gaan. Strek hom goed sodat hy stewig is.
My vorige twee posterasies is oor die starter en meer detail oor die bakproses. Ek het ook links daarin na youtube videos wat baie van die aspekte dek insluitend die strek en voue, vorming en die sny van die deeg.

Ek sluit af met paar foodporn tipe fotos van my brode.