Wednesday 2 September 2020

Ontmoet vir Agmed

Archimedes moes vir Koning Hiero II uitpluis of van die goud wat vir sy kroon gebruik moes word dalk vervang is met silver. Korrupsie is tydloos.

Hy het in die bad geklim en opgemerk dat die water styg toe hy inklim. Een plus een is twee en hy het die gevolgtrekking gemaak dat water gebruik kan word om die volume van 'n onegalige voorwerp te meet. Hy was so opgewonde oor sy ontdekking dat hy poedel nakend in die straat afhardloop en "Eureka!" geskree het.

My suurdeeg gis monstertjie is grootgemaak op Eureka meel so net goed om hom na Archimedes te vernoem. Maar enige troeteldier moet nie 'n naam kry met vier lettergrepe nie. Twee is genoeg want hoe roep of skel jy 'n troeteldier in vier lettergrepe. Dit werk nie. 

Die monstertjie se naam is dus afgekort na Agmed (Arch(G)iMEDes. 

 

 Die suurdeeg monster is die begin van ordentlike brood. 

Suurdeeg begin bestaan uit melksuurbakterieë, wilde gis, water, meel en tyd.

Die bakterieë en gis is natuurlik in die lug en omgewing en verskil van omgewing tot omgewing. Die bekende San Francisco sourdough brood is nie as gevolg van verskillende metodes nie maar omdat die spesifieke gis in die area is wat die brood die unieke smaak gee. Ek kan net lag as ek in F&V sien hulle verkoop San Francisco sourdough brood!

Om een te begin is eintlik ongelooflik maklik:

Begin by 'n begin

Omdat dit net uit twee bestandele bestaan, meel en water is dit belangrik om die beste te gebruik wat jy kan kry. Vergeet Sasko meel. My monster wil dit glad nie eet nie. 

Ongeblykte meel sonder enige toevoegings is belangrik of nog beter gebruik stoneground meel. Hier by ons weet ek net van een plek wat stoneground sonder enige toevoegings vervaardig. Eureka Mills

As die water te veel chloor in het gebruik bottel water. Die chloor gaan die bakterieë doodmaak. Veral om die monstertjie te begin is dit dalk goeie idee om 'n bottel water te kry vir dit. Ek het altyd nog net kraan water gebruik en het nie enige probleme gehad nie. 

Volgraan meel en rye meel het blykbaar meer natuurlike organismes. Ek het myne begin met ewe veel volgraan, rye en witbrood meel.

Die proses

Die voer ek kweek proses verg altyd dieselfe gewig water en meel.

Dag 1

        50g Witbrood meel
        50g Volgraan meel
        100g Water
        Roer als net bymekaar

Dag 2

        Roer dit net en laat staan

Dag 3 - 7

        100g van jou begin monstertjie
        100g meel of kombinasie van meel
        100g water

 Teen hierdie tyd behoort jy al lank al lewe te sien.

Voedings na 7 dae

    25g monstertjie
    100g meel
    100g water

 Daar is twee fatore wat gaan beinvloed hoe vinnig die monstertjie die meel gaan eet. Die hoeveelheid monstertjie en die omgewingstemperatuur.  

Aangesien dit winter was het ek altyd meer monster gehou as die 25g aanbevole gedeelte. Die een of twee warm dae wat ons gehad het moes ek hom twee keer per dag voer. Die 25g behoort egter vir 24 uur te hou. 

Onderhoud

Die organismes in die monstertjie is ongelooflik moeilik om dood te kry. Hitte is omtrent die enigste ding. Koue en honger gaan hulle nie doodmaak nie. So moenie stres as jy 'n voeding mis nie, hy gaan net effe stadiger wees en gaan weer bykom sodra jy hom kos gee. Hy moet behoorlik mishandel en afgeskeep word om op sy eie dood te gaan. Jy hoef ook nie te stres dat dit sal afgaan nie. Die
bakterieë is baie jaloers en gaan enige ander organismes wat dalk inkom doodmaak. 

As jy nie baie brood gaan bak nie kan hy in die yskas leef. Haal hom uit en voer voordat jy dit gebruik. 'n Honger monstertjie is ook goed om te gebruik maar hoe beter jy na hom kyk en gelukkig hou hoe beter resultate gaan jy kry. 

Ek het al meer as eenmaal dit net so ongevoer uit die yskas gebruik maar gee hom net meer tyd om aan die gang te kom. 

Tips en truuks

Ek het nog nooit die oorblyfsels (discard) weggegooi nie. Ek hou dit in 'n groot pot in die yskas en meer as een keer het ek teruggeval daarop en dit gebruik in plaas van die lewendige een. Ek voer dit ook so een keer elke twee weke net om dit aan die gang te hou. Dit is baie lekker om te gebruik in enigiets wat water en meel verg. 

Vir die lewendige een gebruik ek twee potte. Een raak net 'n gemors na 'n ruk en dis moeilik om te skat wat oorbly. So om te voer gebruik ek 'n groot blik beker en gooi my gewig monstertjie in, dan die water, meng effens en gooi dan die meel in. Ek gooi dan die mengsel oor in 'n skoon pot. Sit net die deksel bo-op moenie toedraai nie, hy het suurstof nodig.

Ek teken 'n prentjie met 'n lyn sodat ek kan sien wat die aanvanklike vlak was en hoe hy gerys het. 'n Rekkie om die pot is die gewone metode om dit te doen. 'n Skoon pot gaan ook vir jou 'n aanduiding gee of hy begin terugval het. Dis 'n aanduiding dat dit gereed is om gevoer te word. 

Gebruik van die oorblyfsels

My gunsteling is pannekoeke. 

Een eier, 'n knipie sout, 'n groot eetlepel oorblyfsel en 'n bietjie melk is perfek vir twee pannekoeke. Absoluut 'n gunsteling vir 'n vinnige ontbyd. Met kerrie maalvleis en Mrs Balls is dit aandete. 


Daar is heelwat resepte vir die gebruik daarvan, van beskuit tot choc-chip-cookies. 

Ek het 'n online groep begin waar almal wat hou van suurdeeg brood bak kan saamwerk.

Join gerus!

Geniet jou monstertjie en lekker bak!

Dirk





 







 

 

 



No comments: