Monday 17 August 2015

Wolf Pastei

Dis wat die kinners dit gedoop het. Wolf Pastei! Net omdat my hoender eerder na 'n wolf lyk as 'n hoender.
Hoender en groente pastei

Ek kan allerhande goed doen maar prentjies is nie ek nie. My hoender het 'n kop, 'n bek, oê en selfs kamme, so hoekom kan dit nie 'n hoender wees nie?

Hoenderpastei is eintlik een van die maklikste en vinnigste pasteie om te maak. Kook die hoender, ontbeen dit, maak 'n dik sous met enigiets wat jy byderhand het daarin. Sit it in 'n deeg en bak.

Hierdie een het heel besonders uitgekom, ek het 'n pakkie groen groentes gehad wat ek kleiner gesny het, bietjie lensies en 'n pakkie "two-minute-noodles" ingesit.

Hier is die volledige resep vir hoender en groente pastei aka Wolf Pastei:

Bestandele:

3 Hoenderborsies met vel en been.
500g gemengde groente (klein mielies, brocoli, boontjies, murgpampoentjies)
1 groen soetrisie (green pepper)
1 pakkie sampioen gegeurde vinnig-gaar noodles
1 handvol rooi lensies
1 blokkie aftreksel (groente of hoender of albei)
Swart peper
Oringanum
2 pakkies pastei deeg.
Botter en meel vir 'n witsous.
O ja, sout ook.

Metode:
Kry 'n groot genoeg pot om jou pastei filling te kook en begin solank die hoender kook in 'n koppie of twee water.
Terwyl dit kook sny al jou groente in kleiner stukkies.
Hoe die murgpampoentjies en broccoli eenkant want dit moet nie weg kook nie.
Gooi dan al die bestandele buiten die witsous en die eenkant-groente sommer saam met die hoender wat kook. Al die geursels en aftreksels ook. Gooi ook die speserye in - omtrent 'n teelepel elk.
Haal die hoender uit sodra dit gaar genoeg is om te ontbeen.
Ontbeen die hoender en sny fyn op. Gooi die hoender terug in die pot.
As alles in die pot gaar is gooi dan die eenkant-groente by en maak die sous dik (sien die cheat witsous hieronder)
Moenie te lank kook nie. Dit gaan nog binne die pastei bak ook.

Om die sous dik te kry is hier 'n cheat witsous metode:
Sit twee eetlepels botter en twee eetlepels meel in 'n koppie in die mikrogolf. Sodra dit borrel roer deur en sit vir nog paar sekondes in sodat dit opborrel in die koppie. Gooi dan die warm borrelende botter en meel bedryf in die pot in die sous. Of roer van die vloeistof by in die koppie en gooi dan terug in die pot.  Dit sal die sous onmiddelik dik maak.

Sit een pakkie kits deeg onder in die bak. Gooi jou mengsel in en sit die ander pakkie deeg bo-op.

Dit bak vir omtrent 40 min (of tot dit mooi bruin is) teen 190 Celcius.

Geniet dit!


No comments: