Friday, 25 September 2026

Die Cholesterol paradoks

Die Cholesterol Paradoks

Die meeste van ons word aangeraai om statins te gebruik. ’n Cholesterol toets word gedoen en dis te hoog en jy moet die pille gebruik. Vir my was dit nie goed genoeg nie en ek moes verstaan hoe dit werk. Wat hieruit gekom het was ’n baie interessante storie wat die prentjie bietjie anders wys as wat vir jou vertel word.

Die grootste wanopvatting is dat dit vette is wat die probleem veroorsaak. Dit is nie! En die rol wat vette speel om wel die probleem te vererger is anders as wat jy mag dink.

Om die probleem te verduidelik wil ek eers vertel hoe ’n normale stelsel sonder ’n cholesterol probleem werk want dit is werklik insiggewend.

Cholesterol is nodig in elke sel van jou liggaam om die selwande te vorm en normale werking te verseker. Dit is dus nie inherent sleg nie en die vervoer meganisme hiervan is kern om te verstaan. Selle vervaardig hulle eie cholesterol en het weinig ekstra nodig maar ons liggaam het ’n meganisme om ekstra te voorsien waar dit mag nodig wees.

Jou liggaam het ’n hele vloot van vervoer van cholesterol. As ons kyk na hoe dit werk is dit maklik om die stelsel te visualiseer as ’n vervoer stelsel van trokke en koeriers.

VLDL

Die eerste trok is VLDL. Die primêre doel van hierdie trok is om energie af te lewer aan die selle in die vorm van trigliseriede. Die lewer genereer VLDL gelaai met die energie en stuur dit uit. Dit reis en lewer sy vrag af in stukkies en doen baie stoppe vir aflaai. Dit kom dan terug en word vernietig. Elke een wat uitgestuur word is ’n nuwe een en word nie hergebruik nie. Maar omdat die afleweringsmetode werk word daar ook bietjie nood herstel materiaal ingesluit vir ingeval dit iewers nodig is. Dit is die cholesterol. Om die trok te maak werk en te verpak word dit toegedraai in ’n proteïne — die ApoB proteïne.

LDL

Wanneer VLDL sy pakkies afgelaai het raak dit LDL wat geen meer energie het om af te lewer nie. Die LDL bevat egter nog steeds cholesterol wanneer dit klaar is met sy werk. As die cholesterol wel iewers gebruik word dan word die hele trok van die pad afgehaal en gebruik. So die wat terugkeer is die waarvan die cholesterol nie gebruik is nie. Die einde van die roete van die trok is gewoonlik terug by die lewer as hy nie gebruik is nie. Die lewer se oppervlak is besaai met reseptore wat se enigste doel is om dit te vang op terugkeer.

HDL

Dit is ’n heel aparte trok met die doel om cholesterol te gaan haal waar dit oortollig is en te vernietig in die lewer. Dis die goeie cholesterol waarna verwys word. HDL word nie vernietig soos LDL nie en doen sy rondtes om kolleksie van cholesterol te doen, dit by die lewer af te laai en gaan dan weer uit om nog te werk.

Koerier

Daar is ’n proteïne in jou bloedstroom wat werk soos ’n koerier wat cholesterol en trigliseriede uitruil. Sy naam is cholesteriel-ester-oordragproteïen. Die rede vir sy bestaan is heel moontlik om die energie verspreidings netwerk aan te help maar dit is nie heeltemal uitgemaak in die mediese wetenskap nie.

Dit het ’n eenvoudige werk. As dit een van die trokke teëkom, VLDL, LDL of HDL dan verruil dit wat hy ook al bevat uit met die een wat hy teëkom. As hy energie bevat dan ruil hy dit vir cholesterol en as hy cholesterol het ruil hy dit vir trigliseriede. Daar is geen ander slim meganisme hieraan nie, dit ruil bloot net elke keer as dit ’n trok met ’n ApoB baadjie teëkom.

Dit is hoe ’n gesonde sisteem werk. So waar kom die cholesterol probleem in?

Wanneer jy koolhidrate inneem skakel jou lewer dit oor na trigliseriede en dit word afgelewer deur VLDL trokke soos vertel. Hoe meer jy inneem hoe meer trokke word uitgestuur. As jy te veel inneem is die meeste van die trokke in omloop VLDL. Die probleem wat dan plaasvind is met die koerier (cholesteriel-ester-oordragproteïen). Hy ruil net wat hy teëkom. So wat gebeur is dat hy meesal trokke met trigliseriede teëkom en bevat dan meesal trigliseriede. So as hy nou by ’n LDL wat op pad terug is aankom ruil hy dit vir ’n cholesterol en die LDL bevat nou weer ’n trigliseriede. Wanneer hierdie LDL by die lewer aankom word die geleende trigliseriede afgehaal in are van die lewer maar die LDL bly lewendig. Die proses is hepatiese lipase. Die LDL bly sirkuleer totdat dit by die reseptore aankom wat dit moet vang en het dan ook weer ’n kans om die koerier teëkom wat dit nog ’n trigliseriede gee en ’n cholesterol af te haal. So elke keer wanneer dit gebeur raak die totale grootte van die LDL kleiner en die proteïn wat dit toedraai raak nie kleiner nie en dit moet voorsiening maak vir die kleiner trok. Sien dit soos ’n papier wat die pakkie toedraai. Dieselfde hoeveelheid papier maar ’n aansienlike kleiner pakkie. Dit word dus vervrommel. Dit is die hele probleem. Nou kom die LDL by die lewer aan en die lewer se reseptore kan nie meer bind aan die vervrommelde trokkie nie want die gedeelte wat moet bind aan die reseptore in die lewer is toegedraai in voue.

Hierdie hergebruikte LDL pakkies lewe dae lank en die enigste plek waar hulle kan opeindig is die wande van die are waar dit bly. HDL kan dit egter afhaal en terugneem na die lewer toe maar in ’n stelsel wat gevloed is met VLDL om die hoeveelheid ekstra triglisiriedes te hanteer is die kanse min dat dit gaan gebeur en dit pak aan. Dit is die hele risiko van die cholesterol probleem.

Wat die koerier en uitruil probleem vererger is dat wanneer HDL trigliseriede optel dit onstabiel raak en word dan deur die niere te vroeg vernietig. Minder HDL in sirkulasie en dus minder kanse om cholesterol terug te neem na die lewer toe.

Dis waar statins inkom. Dit verminder die lewer se funksie om cholesterol te vervaardig wat dan op sy beurt die lewer meer reseptore laat vorm sodat dit meer cholesterol kan vang en dus meer van die LDL uit sirkulasie haal.

Tot dusver as jy dit volg sal jy opmerk dat vette nie hanteer is in hierdie hele distribusie netwerk nie. Vette het hulle eie distribusie netwerk geheel en al maar deel die ApoB protein verpakking om dit in die bloed te kan vervoer. Daardie trokkie is ’n chylomicron wat energie vervoer en bevat soos die HDL ook ’n klein hoeveelheid cholesterol. Hierdie chylomicron’s word ook gevang deur die koeriers en laai ’n triglisiriede aan boord wanneer dit die koerier teëkom. Maar die chylomicron’s het prioriteit vir aflaai van die energie wat dit bevat en het dus ’n redelike kort lewe. Hulle is binne 6 tot 8 ure na die ete wat die vette bevat uitgewerk. Die probleem is dat as daar baie van hulle is word minder LDL uit sirkulasie gehaal aangesien die lewer net soveel reseptore het. Soos die LDL raak die ApoB verpakking van die chylomicron’s ook baie klein en kan in die are vaspak.

Sekere vette het ook die uitwerking dat minder reseptore in die lewer gevorm word om die LDL te vang in die lewer wat die probleem effe kan vererger. Wat interessant is dat Omega3’s minder VLDL laat vorm wat dan op sy beurt minder uitruil met die koerier het wat dan beteken dat HDL langer kan bly werk en dan die effek het dat meer HDL in omloop is.

Die ander faktor wat ’n groot rol speel is insulien. Wanneer jy koolhidrate eet styg jou bloedsuiker en insulien word vrygestel. Die koolhidrate word deur die lewer in trigliseriede omgeskakel en as VLDL uitgestuur. Hoe meer koolhidrate, hoe meer VLDL trokke op die pad. Insulien is ook die reguleerder van vette. As dit hoog is gaan ekstra energie as vet gestoor word en kan gestoorde vet nie gebruik word nie. By insulienweerstandigheid bly die vlakke permanent hoog en die vetfabriek hou nie op nie.

Die hart van die probleem is dus te veel koolhidrate en suiker met vette wat die probleem aanhelp maar nie inherent veroorsaak nie.

My konklusie hiervan is dat as jy vette het om te verbrand verminder jou koolhidrate inname drasties. Dit verlaag jou insulien vlakke wat die deur oopmaak om vette te verbrand. Dit verminder die hoeveelheid VLDL in sirkulasie en laat die HDL toe om hulle werk te doen om die oortollige cholesterol te gaan haal en dan hopelik ook ’n effek op jou are het. Maar ’n lewenslange oorskot van koolhidrate gaan nie oornag van die cholesterol probleem ontslae raak nie maar jy kan dalk die proses keer om erger te raak.

Hierdie is eintlik my rebellie om self nie statins te gebruik om die cholesterol probleem te beheer nie. Ek is nie ’n dokter nie en dit is bloot bedoel om enigiemand wat dit lees in te lig van wat werklik aangaan met die cholestrol probleem.

Groete

Dirk

No comments: