Sunday, 6 April 2025

Zen in die kuns van Kettie

Zen en die kuns van Kettie

Kettie skiet het 'n ouer en baie duurder suster. Boogskiet. Alhoewel ek nooit 'n boogskutter was nie wou ek altyd baie graag boog skiet maar dit was nooit toeganklik nie. Toerusting is duur en daar was nerens waar ek in die platteland gebly het enige klubs of so iets nie maar dit het nog altyd vir my 'n groot fasinasie gehad. As kind het ek baie probeer om my eie te maak en ook pyle te sny. So ook het ek as kind ketties gemaak. Tydens vakansies op die plaas in Stellenbosch, waar my oupa gebly het, het ek elke keer as ek daar was of kettie goed of boog goed gedoen. Kettie mikke gesny uit 'n boom wat ek iewers op die plaas gekry het of pyle en boog uit riete by die dam gemaak. Ek onthou daar was 'n kleurling man wat die koeie gemelk het wat my altyd gehelp het om 'n mik of tak vir 'n boog te sny. Spokes was sy naam. Ek het ook gaan help koeie melk en die koue romerige melk wat uit die verkoelingsmasjien gekom het was net ongelooflik. Maar dit was laaste wat ek kettie of boog geskiet het of melk net so uit die koei gedrink het.

Fast forward 'n hele klompie jare. My Oom Manie het begin om vir ons 'n familie byeenkoms te reel oor paasnaweek en een van die beplande gebeure was 'n kettie skiet kompetisie. Dit het al die herinneringe van kind wees op vakansies op die plaas net so terug gebring. Ek het nie 'n kettie gehad nie maar om as volwassene 'n kettie te maak gaan aansienlik makliker wees as toe jy kind was. Wat het jy nodig? 'n Mik, rekke en 'n velletjie...en ammunisie en iewers om te skiet. Ek wou nie daar aankom en soos 'n paloeka lyk nie en wou darem eers bietjie oefen voor die kompetisie.

Ek het in die kas 'n mik gekry wat gekoop is op 'n straat hoek by die ouens wat ook die verestoffers verkoop. Dit het nog daai rooi rekke op gehad wat nie veel vinniger is as wat jy kon gooi nie. So mik uitgesort. Daardie is nog steeds een van my gunsteling mikke. Toevallig was dit presies die regte dimensies en gevoel. Enige ander boom mik of kettie wat ek gemaak het is daarop geskoei. So mik sorted.

Oom Manie het vertel hulle het daar op Kleinmond 'n kettie klub en hulle gebruik die mediese latex tubes vir rekke. Dit het vir my na goeie plan geklink en ek het hier in die Kaap 'n vervaardiger van latex tubes opgespoor en so paar meter gekoop. Rekke gesort.

Die klub op Kleinmond gebruik ook albasters vir skiet en dit het vir my ook heelwat beter geklink as klippies. Maklik om te kry so ammo gesort.

Velletjies was maklik. Stukke offcut leer by Woodheads in die stad gekry en ek kan velletjies by die horde sny. Lekker groottes sodat jy lekker die albaster kan grip.

So waar om te skiet? Ek het 'n ou kombers opgehang tussen 'n wasgoedpaal en nog 'n paal wat die backstop sal wees. Nou het ek al die toebehore om te kan skiet.

As kind kon ek nooit einlik enigiets raakskiet nie. As ek iets raak geskiet het was dit maar pure geluk. So ek het gedink dat daar darem iewers iemand moet wees wat al uitgefigure het hoe om akkuraat met 'n kettie te kan skiet. Ek google dit (how to aim with a slingshot). Ek kry toe 'n youtube video wat stap vir stap verduidelik hoe om te korrel. Anchorpoint teen jou wang, hou kettie vertikaal vas en dan kan jy die boonste punt van die rek gebruik as korrel. Dit was vir my 'n revelation ek kon voorwaar so nou en dan iets raakskiet!

Ek dink Oom Manie is nog steeds effe upset met my (en trots ook dink ek) oor ek die eerste familie kompetisie gewen het daardie jaar.

So amper 'n jaar later het Oom Manie vir my 'n koerant artikel gestuur het oor 'n nasionale kettie vereniging wat gestig is in Bloemfontein en daar die eerste nasionale kettie kompetisie gehou het. Dit het my baie opgewonde gemaak en ek het hulle gekontak. Hulle het vir my die Wes-Kaap verteenwoordiger se nommer gegee. Dit was die geboorte van BBK. Met my wat die klub registreer en Ivano as eerste lid. Ons kettie klub. (Staan vir Boksom Bende Kettieklub) Ek kon nie aan iets beter dink toe ek die klub moes regsitreer op die SASF se website nie. Maar BBK werk baie lekker.

Fast forward nog amper twee jaar en ons klub het gegroei to 14 lede wat almal ewe passievol is oor kettie skiet.

Gedurende hierdie tyd het ek en van die ander lede baie geleer oor kettie skiet en die oorspronklike albaster skiet met mediese latex tubes is so ver verwyder van wat ons nou doen soos wat 'n voorlaaier en R4 van mekaar is. My kettie is 'n custom design en handgemaakte G10 materiaal en rekke is 0.5mm dik latex bande wat van China af ingevoer word. Die velletjie is 'n agste van die grootte en uit sintetiese materiaal vervaardig. Ons ammunisie is 8mm staal balletjies en ons teikens is 4cm in plaas van die 15cm wat ons familie kompetisie teiken was. Dis net die toerusting. Die skiet manier is nog baie dieselfde soos ek op daardie eerste youtube video gesien het maar met soveel nuances dat dit omtrent 'n storie op sy eie is.

Ook teen die tyd het kettie skiet as sport in Suid Afrika ook bietjie verander. Die SASF (South African Slingshot Federation) ook omtrent uit mekaar geval. Geld en politiek het tussen beide getree en die aanvanklike voorsitter is uitgeskop en die nuwe voorsitter is 'n man wat net sy eie ego en bemarking van sy eie brand bevorder. Dit lyk op die stadium asof ons nie sal kan staatmaak op die SASF om kettie skiet as sport regtig te bevorder nie. Ek het die Vrystaat se ope toernooi bygewoon en die 13 ure event waar ons maar omtrent 6 mense was wat in die ope deelgeneem het het my laat besef dat dit nerens gaan kom nie.

Intussen het ons klub stadig gegroei en ons het klomp dinamiese lede bygekry. Ons het ons eie venue waar ons elke week iets doen en veral 'n whatsapp groep waar dit baie besig is. Ons het sover ek weet die eerste interklub byeenkoms in Suid Afrika gehou waar ons die Kleinmond kettie klub van Oom Manie ontmoet het en saam met hulle albasters geskiet het. Ons het so paar interne en ope kompetisies gedoen en ons eie interne liga begin.

Dis nou waar die Zen deel inkom. Persoonlik het my skiet so hele paar transformasies gehad soos die verskillende aspekte by mekaar gekom het. Dit bly en sal altyd 'n work-in-progress wees. Die onderste is 'n ontdekkingsreis en eerder 'n wishlist en opsomming van wat ek graag wil regkry eerder as iets wat ek reeds bemeester het.

By my by die huis skiet kan ek 'n 3.5cm teiken 4 uit 5 keer raaksiet maar dan kom ek in 'n kompetisie dan het ek kere wat ek al die teikens mis skiet. Ek het begin om paar boeke te bestudeer en onder andere die boek Zen in the Art of Archery. Baie van die beginsels wat beskryf word kan net so van toepassing gemaak word in kettie skiet en ek wil so paar daarvan beskryf wat vir my baie resoneer het. Baie van die boeke wat oor die laaste paar jaar geskryf is oor kompeterende sport en veral skiet sporte het almal een of ander van die beginsels in.

Daar is fisiese en emosionele aspekte wat hand aan hand gaan. In die eerste plek voor jy nog by enigiets kan uitkom moet jy kyk na jou toerusting. Soos ek ook aan die begin my mik in die kas gekry het en rekke moes source is jou toerusting 'n voorvereiste. 'n Goeie kettie met perfekte dimensies wat vir jou werk en rekke wat presies opgestel is gaan die verskil wees tussen 15cm teiken te kan konstant raak skiet of 'n 4 cm teiken te kan skiet.

As jy eers die basiese goed onder die knie het en dink jy kan so effe skiet dan is dit nou waar die probleem inkom. Om enigsins na die volgende vlak te gaan sal jy veel dieper moet gaan as net die tegniese vaardighede. Dit gaan oor hoe jou liggaam, verstand en gees saamsmelt in 'n enkele, spontane aksie.

"Meester die vorm sodat jy dit heeltemal kan vergeet."

Jou vorm waarmee jy skiet is kardinaal en dit is nie 'n maklike proses nie, Dit verg tyd en konstante verbetering. Vorm gaan oor hoe jy staan, hoe jy die mik vashou, hoe jy korrel en hoe jy skiet. Veral ankerpunt is krities. Dit moet 'n betroubare verwysing wees wat jy keer na keer kan herhaal. Dit skep stabiliteit en voorspelbaarheid van jou skoot.

Liggaamshouding en ontspanning. Die perfekte houding is te gelykkertyd stewig en onstpanne. Gemaklik maar stabiel. Jou staan moet stabiliteit in jou liggaam sit maar onstapnne wees. Jou greep moet lig wees maar stewig genoeg om stabiliteit te verseker.

Jou vorm moet so natuurlik wees sodat jy dit kan vergeet as jy skiet.

"Asemhaling as gids"

Jou asemhaling beïnvloed jou skoot baie. 'n Bewuste inasem en uitasem help jou om die mikpunt te vind en jou gedagtes rustig te maak. Met kettie skiet beteken dit dat jy tydens die mik en net voor die release op 'n natuurlike, rustige asemhaling moet fokus. Jy probeer nie jou asem heeltemal te stop of vas te hou nie—dit is 'n vloeiende proses wat kalmte bring.

Zen beklemtoon asemhaling as 'n kragtige anker om jou bewussyn in die huidige oomblik te bring. As jou asemhaling rustig en natuurlik is, volg jou liggaam en gees vanself.

"Die Beginner se Gees" (Shoshin)

As beginner was als nuut en het jy vinnig vordering gemaak soos jy elke aspek leer ken en ontdek. Mettertyd begin jy aanvaar dat jy reeds als weet van iets en dit kan lei tot stagnasie. Die beginsel van Shoshin is om elke ervaring en skiet te gebruik as verdere leerproses en sodoende konstante vordering te maak. Dit geld nie net vir kettie skiet nie maar dit is 'n filosofie wat elke aspek van mens se lewe raak.

"Maak jou gedagtes leeg" (Mushin)

Die zen beginsel is gedagtes sonder gedagtes. (No mind) Dis 'n toestand waar jy nie meer bewustelik dink aan tegniek of mik nie. Jou verstand is stil, leeg van afleidings en spanning. Dit laat jou toe om volledig teenwoordig te wees in die oomblik, en laat jou liggaam spontaan reageer sonder inmenging.

Dit gaan oor 'n bewussynstoestand waarin jy nie meer deur spanning, vrese, begeertes of enige ander emosies afgelei word nie. Jou verstand is helder en volledig teenwoordig in die huidige oomblik sonder om enigsins te fokus op wat gaan of moet gebeur of wat reeds gebeur het nie.

As jou gedagtes vol is soos wanneer jy aan tegniek, prestasie, kompetisie of uitkomste dink, skep dit spanning en onsekerheid. Jou skoot raak geforseerd, en jy verloor jou natuurlike ritme en presisie. Daarteenoor, met die beginsel, skiet jy met suiwer kalmte en helderheid, sonder twyfel of bekommernis. Jy word deel van jou kettie, ammunisie, teiken, en die oomblik. Alles smelt saam in een vloeiende ervaring.

"Eenheid met die teiken"

Zen leer dat jy en jou teiken nie twee afsonderlike entiteite is nie. Jy is een geheel. Wanneer jy die teiken beskou as deel van jouself en nie iets wat jy moet oorwin nie, maar eerder iets waarmee jy moet saamsmelt, dan raak die skoot meer natuurlik en akkuraat.

Wat dit prakties beteken is om nie die teiken te sien as iets wat jy moet raakskiet of oorwin nie. Dat dit iets ver is nie. Jy moet effe anders daarna kyk. In plaas daarvan probeer jy om te voel asof jy en die teiken reeds verbind is, asof die skoot reeds bestaan en jy net toelaat dat dit manifesteer. Jy "stuur" nie jou ammo na die teiken nie, jy laat bloot toe dat dit gebeur.

Hierdie perspektief beteken jy probeer nie aktief beheer uitoefen oor jou skoot nie. Jy vertrou jou liggaam, jou tegniek, en die baie skote wat jy reeds gedoen het. Jy het reeds geoefen, jy ken die afstand, jy ken jou kettie en ammo, so jy laat bloot toe dat hierdie bekende faktore bymekaar kom sonder ekstra spanning.

Wanneer jy hierdie toestand bereik, voel die skoot amper vanselfsprekend. Jy ervaar nie meer enige twyfel nie. Jy weet instinktief wanneer jy moet loslaat, amper asof jy en die teiken dieselfde ruimte en oomblik deel. Daar is geen innerlike debat oor wanneer die "regte oomblik" is nie. Jy is eenvoudig deel van 'n natuurlike aksie wat alreeds aan die gang is.

"Aanvaar sonder oordeel"

Daar is boeke oor sport ontwikkeling wat slegs oor hierdie aspek geskryf is.

Wanneer jy skiet moet jy nie gefokus wees op die uitslag nie. Of dit raak of mis is maak nie saak nie, dit gaan net oor die skoot. Die vorige skoot en volgende skoot het geen invloed op wat jy doen nie. Hoe belangrik dit is dat jy raak skiet of die ongelukkigheid oor 'n vorige mis skoot is nie in jou gedagtes nie.

Dit beteken nie dat jy nie omgee nie. Natuurlik gaan enigiemand omgee oor hoe akkuraat of suksesvol jy is. Dit beteken net dat jy emosioneel los moet staan van die onmiddellike resultate.

Wanneer jy skiet, is daar altyd twee moontlike uitkomste: jy tref die teiken, of jy mis. Wanneer jy jou skote voortdurend evalueer as "goed" of "sleg," "reg" of "verkeerd," bou jy innerlike spanning en angs op. Veral as dinge nie gaan soos jy wil he dit moet nie. Jy begin twyfel in jou vermoë, en die vrees om te mis raak groter en jy sien al hoe kry jy nul op die rondte. Zen stel voor dat jy eerder elke resultaat neutraal aanvaar, sonder om jou emosioneel daaraan vas te bind. Wanneer jy raak skiet, waardeer jy die skoot sonder om opgewonde te raak daaroor en wanneer jy mis, erken jy dit sonder om jouself af te breek met gedagtes soos "ek het misluk." Elke skoot is eenvoudig 'n leerervaring; 'n oomblik van terugvoer wat jou volgende skoot kan verbeter. Met die beginsel sal jy kettie skiet meer geniet en baie meer onstpanne wees wat beteken jy gaan beter skiet. Veral in kompetisies maak dit 'n groot verskil. 'n Baie goeie skoot kan net so gevaarlik wees as 'n slegte een. Of jy bly is jy het raak geskiet of sleg voel oor jy mis geskiet het, dit gaan die druk op die volgende skoot sit. Wanneer jy leer om jou skote sonder oordeel te aanvaar, skiet jy uiteindelik vryer en beter, want jou sukses lê nie meer net in die resultate nie.

Nou hoe kry mens dit reg? Fokus net op die skoot voor jou. Leer 'n mantra aan om jouself te herinner dat net hierdie skoot belangrik is. Myne is "vertrou die proses".

"Natuurlike ritme en vloei"

Die Zen-beginsel beklemtoon dat elke beweging en aksie in jou kettie skiet glad en sonder onderbrekings moet plaasvind. Dit verwys na 'n toestand waar jou voorbereiding, mik, anker, asemhaling en loslating as een harmonieuse, aaneenlopende beweging gebeur, sonder enige innerlike weerstand of twyfel. In Zen-filosofie word hierdie konsep dikwels beskryf as om in 'n "vloeiende stroom" te wees. Jy word nie teruggehou deur spanning, huiwering, of geforseerde beheer nie. Wanneer jy skiet, voel jy nie dat jy teen weerstand veg nie; alles verloop natuurlik, soos water wat sonder moeite vloei. Sonder om zen/airy fairy woorde soos innerlik harmonie te gebruik is hierdie moeilik om te beskryf. Dit kom daarop neer dat jou skiet moet 'n gemaklike vloei van een na die ander moet wees. Voorbereiding – anker punt – trek van rekke – kry die teiken – los die skoot. Dit moet soos die vloei van 'n stroom wees. Sonder obstruksies en gemaklik.

"Skiet sonder om te skiet"

Dit is waar jy nie doelbewus probeer om die skoot te los nie. Jy skep eerder toestande waarin die release vanself gebeur, sonder om daaroor te dink. Dit beteken om nie te mik met oormatige spanning nie, maar eerder die oomblik toe te laat om jou release natuurlik te laat gebeur wanneer dit reg is. Dit beteken dat jy jou tegniek en vorm vooraf vervolmaak deur oefening sodat jou liggaam die perfekte oomblik herken en spontaan daarop reageer, sonder om aktief jou verstand te betrek. Jy skep eenvoudig die perfekte omstandighede vir jou skoot, en dan vertrou jy jou liggaam en jou onderbewuste om die res te hanteer. Dit moet voel dit asof jy net 'n passiewe waarnemer is van die skoot wat plaasvind. Jy beleef nie spanning oor die regte oomblik van loslating nie, want jy is nie bewustelik besig om dit te probeer beheer nie. Jou liggaam neem oor wanneer dit die regte oomblik herken, en die skoot gebeur vanself. Die ervaring kan beskryf word as iets soortgelyk aan 'n "verrassingskoot," waar jy nie vooraf bewustelik besluit om los te laat nie. Jy is so diep teenwoordig en gefokus in die oomblik dat jou velletjie spontaan uit jou vingers gly wanneer jy op die perfekte plek mik. Die gevolg is 'n baie akkuraat en ontspanne skoot.

Na die skoot - Zanshin – "Aanblywende Gees"

Zanshin is 'n Japannese term wat beteken om ten volle bewus en gefokus te bly, selfs nadat die aksie voltooi is. Prakties beteken dit dat jou fokus nie stop wanneer jy die velletjie los nie. Jy bly teenwoordig, hou jou posisie, en volg jou skoot deur tot na die ammunisie die teiken tref. Hierdie voortdurende teenwoordigheid help jou om konstante en stabiele resultate te bereik. Dit belangrik om jou posisie en liggaamshouding stabiel en gebalanseerd te hou selfs na die skoot. Jou skietarm bly ontspanne, en jou oë bly op die teiken gerig, lank nadat die skoot geneem is. Hierdie stabiliteit help jou om 'n konsekwente vorm en presisie te ontwikkel. Dit sluit ook aan by die aanvaarding van die uitkomste. Jou onmiddellike reaksie nadat jy geskiet het, openbaar jou ware ingesteldheid. As jy 'n skoot mis, kyk jy kalm daarna sonder om jou emosioneel daaraan te verbind. As jy tref, vier jy dit sonder oordrewe trots. Elke uitkoms word aanvaar as deel van jou leerproses.

Hierdie talm na die skoot gee jou ook die geleentheid om jou skoot te evalueer en aan te pas vir die volgende skoot.

Die Zen van 'n perfekte skoot

Wanneer jy gereed maak om te skiet begin dit sonder vooropgestelde idees of verwagtinge. Jy fokus op jou asemhaling wat jou kalmeer en fokus. Jou gedagtes word stil sonder enige vrese of begeertes. Jou vorm is spontaan, gemaklik, ontspanne maar stabiel. Jou hand gaan intuitief na jou anker plek sonder om daaraan te dink. Jy laat bloot jou liggaam toe om die perfekte vorm in te neem. Jy raak een met die teiken, tyd en afstand het verdwyn. Daar is reeds 'n perfekte lyn na die teiken wat reeds deel is van jou en die teiken wat een is. Deur als is die proses van voorbereiding vir die skoot, die vind van jou ankerplek en trek van die rekke 'n gladde 'n vloei van gebeure wat van die een vloei na die ander. Dan gebeur die skoot, sonder dat jy daaroor gedink het het jou vingers die velletjie gelos en die skoot tref die teiken. Jy behou jou posisie van die skoot en jou asemhaling is rustig en jy kyk steeds na die teiken. Sonder dat jy opgewonde is daaroor aanvaar jy die skoot en die uitslag en reflekteer op die skoot wat geskiet is. Dit gee waardevolle terugvoer vir die volgende skoot.

Pad vorentoe

Ek gaan aanhou om te probeer verbeter en poog om die Zen beginsels toe te pas en miskien eendag te kan skiet sonder om te skiet.

Kettie skiet het vir my en vir baie ander mense wat ek mee in aanraking gekom het met die kettie skiet 'n nuwe uitkyk op die lewe gegee, vriende gemaak en lewens lesse geleer en nuwe vaardighede geleer. Ek sou graag hierdie gevoel van gemeenskap wat die ongelooflike sport van kettie skiet ons bied met heelwat meer mense wil deel.

Ek wil aanhou kettie skiet bevorder in ons klub en hopelik nasionaal ook bietjie verskil te maak met kettie skiet as 'n sport. En nog baie meer vriende maak in die proses.

Dirk Lucas
6 April 2025