Sunday 5 September 2010

Wenner Pikekpot

Hierdie was seker omtrent die eerste potjie wat ek in my eie potjie gemaak het. Daaityd was dit in 'n nommer driekwart potjie. As enigeen 'n idee het van hoe klein dit is. As een mens baie eet is dit genoeg... Die storie is dat ek ingeskryf het vir 'n potjiekoskompetiese by 'n kampplek in die no 3/4 potjie. Dit was jare gelede, vorige leeftyd. Een ou kom toe daar na my toe toe ek nog so lekker staan en potjie maak in die kompetisie en se dat hy hoor ek gaan 'n pocket aartappels in die potjie gooi! Nou daar kan net twee aartappels inkom as jy beplan om vleis in te gooi. Ek dink ek het derde plek of so iets gekry vir my pot en die beoordelaars het na die tyd vir my gese dat ek loshande sou wen as ons enigiets anders as die kampplek se tafeltjie en borde daar gehad het vir bediening. Nou daai pot was lekker!

Sedertdien het ek al variasies gemaak en dit weer so probeer kry, maar kon dit nog nie weer heeltemal so reg kry nie. Dink dit het te doen met die no 3/4 potjie en die verhouding van die lekkerrr bestandele daarin. Een van die variasies is dat ek op Ceres in die jaarlikse potjiekos kompetiese 'n krokodil pot gemaak het soortgelyk hieraan en die het ook derde plek gekry. Maar ek dink dit was omdat van die beoordelaars bietjie gegril het vir die gedagte dat hulle krokodil eet.

Gister het ek dit weer so soortvan reggekry, maar weereens met variasies, maar ek dink die variasies is dalk 'n verbetering. Buiten vir die pot, dit was 'n nommer 6 pot!

Die geheim van die hoenerpot is swart mushrooms, room en baie knoffel en iets gerook (nie iets van wat jy rook nie, iets wat gerook is in die pot!) Die swart mushrooms kook nie weg nie en raak soortvan 'n hoofbestandeel in die pot. Die gerookte iets is ook net so belangrik, gerookte wors of stuk gammon of enigiets wat 'n lekker rook smaak aan die pot kan gee. Saterdag het ek 'n stuk gerookte kaas ingegooi wat nogal baie baie nice gewerk het. Ek het ook kluitjies gemaak om bo-op (binne in) die pot te sit waar ek ook van die gerookte kaas ingegooi het. Gwynneth was ook nogal baie beindruk hiermee, maar ek is nog steeds van die vermoede dat haar beindrukgeit bybedoelings het... Sy het belowe om pastei te maak van die oorskiet. As die pastei enigiets soos haar muffins is dan is ek in vir 'n treat.

Pikekpot

Fase 1 - Begin van pot
2 groot uie
Handvol of handevol knoffel
Botter
4-6 pikekdye

Braai die uie en knoffel in genoeg botter tot dit mooi lyk. Gooi dan die hoenerstukke in en braai dit ook totdat dit mooi bruin is sonder om dit te brand. Die pot kan maar goed warm wees om dit 'n mooi kleur te gee. Gooi water of ander vloeistof in om die hoener te kook. Moenie soos ek die pikek te lank kook voordat jy met die volgende fases begin nie, jy wil eintlik he die goed moet nog heel wees as jy eet. Belangrikste hier is om jou whiskey inname laag te hou as jy jou pikek nog styf wil he as die pot klaar is.


Fase 2 - groente
10+ groot swart mushrooms
3-4 aartappels
broccoli
2 baba kooltjies in derdes of kwarte gesny
patty pans of baby marrows
Braaisout

Sny die mushrooms in derdes en gooi dit vroeg in die pot. Gooi die aartappels nie lank na die mushrooms in nie. Berei solank die ander groente sodat dit in die pot kan kom as fase 3 begin. As die aartappels reg is kan die pot maar klaargemaak word. Ek verkies om 'n pot eenvoudig te hou, so braaisout is die enigste speserye wat ek ingegooi het, maar van die groen vars variasies gaan nogal lekker werk.

Fase 3 - afhandeling
Witsous of cheat witsous met gerookte kaas- sien vorige blog vir die cheat version
Blok gerasperde gerookte kaas
Room (ten minstens 1 potjie maar meer sal help)
Kaaskluitjies.

Die laaste groente gaan nie baie lank neem om gaar te word nie. So as jy die laaste groente ingooi, gooi sommer die witsous in en sit die kluitjies op. Vir die kluitjies moet die pot 20 min staan sonder om die deksel op te lig. Die pot moenie te warm wees nie anders gaan die witsous die pot laat brand. Dit is seker die moeilikste gedeelte van die pot maak, maar tydsberekening is mos ingebore as jy pot maak, so moenie worry daaroor nie, jy sal weet as dit reg is sonder om te kyk.

O-ja, moenie vergeet om iemand aan te sit om rys op die stoof te maak nie!!

Kaas Kluitjies (Dumplings)
1 koppie meel
1 teelepel bakpoeier
1 geklitste eier
Lekker groot lepel botter
60 ml melk
sout
Handvol gerasperde gerookte kaas.

Vryf die botter in die meel, sout en bakpoeier totdat dit krummels maak.
Gooi die res van die bestandele by en meng.
Skep lepels vol bo-op die pot.

Ek hoop dit word net so geniet soos ek dit geniet het om dit te maak en om dit te skryf!!
Lekker week!
Dirk

No comments: