Thursday 19 August 2010

Gedagtes oor kerrie

Twee blog posts in een week! Dis 'n eerste, maar ek bevind myself terwyl dit so koud is baie aan kos dink en wat is nou lekkerder as 'n kerrie in die winter... Ek is ook in die gelukkige posisie om nie meer so alleen te eet nie en om te deel maak lekker kos nog lekkerder.

Toe ek nog 'n kinner was het my pa altyd die kerrie gekook want my ma was totaal en al anti "brand" kos. Net die gedagte aan peper het die kos vir haar oneetbaar gemaak, maar my pa het gehou van kerrie.
Ek onthou my pa het altyd alles eers gekook en vir my ma van die "vaal" kos uitgeskep voordat enigiets wat mag sterk wees bygegooi is. Hy het dan 'n mengsel in 'n beker aangemaak - Mrs Balls se chutney, borrie, kerriepoeier en asyn. Dit is dan oor die gaar kos gegooi en deurgekook vir die kerrie. Dis is dan hoe ek kerrie onthou.

Ek is die laaste ruk gelukkig genoeg om in Kaapstad saam met mense te werk wat kerrie Kaapse Malay styl kan maak en ek het 'n paar tips gekry oor kerrie en spices en die gebruik daarvan. Een van die kerries wat nogal vir my uitstaan is hoenderkerrie. Miskien is dit omdat dit baie lekkerder is as die hoenderkerrie wat ek ken, dit nie soet is nie en die eenvoud daarvan dit nog lekkerder maak. Die geur van die speserye daarin is ook net ongelooflik lekker.

Dit word gemaak met heel hoenderborsies met vel en bene en als. Dit word dan net so in blokkies gesny en gebruik vir die kerrie. As jy die PT wil doen, fillit dit, maar hou die vel aan. Daar kom ook 'n ongelooflike hoeveelheid speserye in. Omdat die hoender redelik vinnig neem om gaar te kook, kan die aartappels saam met die rou hoender ingesit word en as die aartappels gaar is, is die kerrie reg. 'n Bietjie variasie hierop is om witwyn te gebruik om die kerrie in te kook. Maak ook bietjie cheat witsous/roux om die sous dik te kry as jy wil. Ek het reeds in 'n vorige blog geskryf van die cheat witsous.

Hoenderkerrie SBR Styl

Bestandele:
Barishap (Fennel saad) ((Of Finkel in Afrikaans))
Jeera (Cumin saad)
Heel Kaneel
Heel swart peper of gemengde peper korrels
Growwe sout
Gemmer
Knoffel
Heel Koljander (Dhania saad)
Vars Dhania (Vars Koljander - blare)
Leaf Masala / Kerrie poeier
Chillies (opsioneel)
Borrie
Olyfolie
Water of ander vloeistof vir kook.
Hoender borsies, fillete of heel met vel
Aartappels
Uie

Vir speseryemengsel:
In "pestel en mortar" maak saam fyn die  -  peper, sout, fennel saad,
heel koljander saad, heel Cumin.
Meng die gemaalde speserye saam met borrie en masala/kerrie poeier.
(Hoeveelhede - min of meer halwe teelepel van elkeen - maar dit is na
skatting - Fennel saad het baie sterk geur, so minder kan gebruik word
- kerrie, borrie en chillies na smaak en sterkte)

Sny uie ringe, knoffel fyn en gemmer repies.
Braai uie, knoffel, gemmer en chillies in olyfolie en skep uit pot.
Braai hoender in pot in olyfolie.
Sit opgesnyde aartappels op hoender en skep die gebraaide uie mengsel bo-op.

Steek kaneelstokkies tussenin.
Strooi speseryemengsel bo-oor.
Gooi twee koppies water of witwyn in en kook tot aartappels sag is.
(Stoompot 10 min)

Sny 'n handvol vars Dhania fyn, meng grootste gedeelte in gaar kerrie
in en prut vir 2 of 3 minute. Gebruik die res vir garneersel.

Sit voor saam met bruinrys of geelrys of basmati rys of rootis of naan brood of kaboemielies of so iets.

Geniet dit!
Dirk

No comments: