Tuesday 21 April 2020

Die Braaibroodjie

In plaas van om my paar sent waarde toe te voeg tot die Covid-19 krisis op hande wil ek eerder bydra tot die internationale stokperdjie van kosmaak gedurende die tuis bly tyd.

Ek wil dus die gala her-opening van my blog afskop met 'n seleksie food-porn geklasifiseer as Braai Broodjie.
















Die maak proses


Volg die stappe:
1. Sny brood
2. Room kaas op die brood
3. Baie dun gesnyde uie op die room kaas
4. Peper op die uie
5. Gesnyde kaas op die uie
6. Dik gesnyde tamatie op die kaas.
7. Sout op die tamatie
8. Gesnyde botter op die tamatie.(Of smeer die botter op die sny brood)
9. Sny brood bo-op.

Of doen dit van stap 9 terug na 1.

Wanneer jy dit braai, draai vinnig en moenie dat dit brand nie.
Braai tot daar kaas in die vuur drup.

Die enigste variasie wat ek gevind het wat net so goed is is om die uie te vervang met baie fyn gesnyde jalapenos.
Hoe beter die bestandele is hoe beter gaan dit wees, gebruik sourdough brood en verouderde gouda vir iets werklik uitsonderlik.
En gebruik altyd regte botter. Ek wil nie eers hoor van iemand wat braaibroodjies met margarine maak nie!




  

Bly veilig!
Dirk

Kyk uit in die toekoms vir: Die braaibroodjie Pizza!

Monday 17 August 2015

Wolf Pastei

Dis wat die kinners dit gedoop het. Wolf Pastei! Net omdat my hoender eerder na 'n wolf lyk as 'n hoender.
Hoender en groente pastei

Ek kan allerhande goed doen maar prentjies is nie ek nie. My hoender het 'n kop, 'n bek, oê en selfs kamme, so hoekom kan dit nie 'n hoender wees nie?

Hoenderpastei is eintlik een van die maklikste en vinnigste pasteie om te maak. Kook die hoender, ontbeen dit, maak 'n dik sous met enigiets wat jy byderhand het daarin. Sit it in 'n deeg en bak.

Hierdie een het heel besonders uitgekom, ek het 'n pakkie groen groentes gehad wat ek kleiner gesny het, bietjie lensies en 'n pakkie "two-minute-noodles" ingesit.

Hier is die volledige resep vir hoender en groente pastei aka Wolf Pastei:

Bestandele:

3 Hoenderborsies met vel en been.
500g gemengde groente (klein mielies, brocoli, boontjies, murgpampoentjies)
1 groen soetrisie (green pepper)
1 pakkie sampioen gegeurde vinnig-gaar noodles
1 handvol rooi lensies
1 blokkie aftreksel (groente of hoender of albei)
Swart peper
Oringanum
2 pakkies pastei deeg.
Botter en meel vir 'n witsous.
O ja, sout ook.

Metode:
Kry 'n groot genoeg pot om jou pastei filling te kook en begin solank die hoender kook in 'n koppie of twee water.
Terwyl dit kook sny al jou groente in kleiner stukkies.
Hoe die murgpampoentjies en broccoli eenkant want dit moet nie weg kook nie.
Gooi dan al die bestandele buiten die witsous en die eenkant-groente sommer saam met die hoender wat kook. Al die geursels en aftreksels ook. Gooi ook die speserye in - omtrent 'n teelepel elk.
Haal die hoender uit sodra dit gaar genoeg is om te ontbeen.
Ontbeen die hoender en sny fyn op. Gooi die hoender terug in die pot.
As alles in die pot gaar is gooi dan die eenkant-groente by en maak die sous dik (sien die cheat witsous hieronder)
Moenie te lank kook nie. Dit gaan nog binne die pastei bak ook.

Om die sous dik te kry is hier 'n cheat witsous metode:
Sit twee eetlepels botter en twee eetlepels meel in 'n koppie in die mikrogolf. Sodra dit borrel roer deur en sit vir nog paar sekondes in sodat dit opborrel in die koppie. Gooi dan die warm borrelende botter en meel bedryf in die pot in die sous. Of roer van die vloeistof by in die koppie en gooi dan terug in die pot.  Dit sal die sous onmiddelik dik maak.

Sit een pakkie kits deeg onder in die bak. Gooi jou mengsel in en sit die ander pakkie deeg bo-op.

Dit bak vir omtrent 40 min (of tot dit mooi bruin is) teen 190 Celcius.

Geniet dit!


Tuesday 11 August 2015

Patatkoek

Net 'n vinnige update oor 'n ongelooflike koek wat ek so 'n rukkie terug al gebak het.

Nou kyk, ek is nou nie die beste bakker nie en ploeter maar net rond daarmee. So toe die kinders lus was vir koek die naweek besluit ek dat dit tyd is vir 'n lekker wortelkoek met cream cheese icing.

Maar ek het geen wortels gehad nie. Ek gebruik toe rooi patat in die plek van die wortels.

Die koek het werklik lekker uitgekom. Dit het net heelwat langer gebak as wat gewone wortelkoek sou bak.

Ek gaan nou nie die hele resep opsit nie. Google net wortelkoek vir 'n basiese resep. Vervang die wortels met patat en...  Kul jou hier en kul jou daar en siedaar...  Jyt 'n patatkoek!

Wednesday 12 March 2014

Upmarket Lam Kerrie

Ek voel vandag 'n vreemdeling hier op my eie blog. My laaste posserasie was 'n hele rukkie terug. Dis 'n lang storie... Die kort weergawe is dat ek gisteraand iets gemaak het wat een van daai was wat moet gedeel word.

Weens 'n gebrek aan die regte bestandele en inovering met die wat jy het kom daar partykeer nogal iets goed vorendag. Hierdie is een van daai. Ek wou kerrie maak en was baie lus vir Rogan Josh, maar ek het nie yoghurt gehad nie en ook nie borrie nie.
Sien my vorige pos:
Rogan Josh posserasie

Wat ek toe maak is 'n opgradering van die Rogan Josh weergawe wat ongelooflik was. Ons het 'n hele emmer room kaas in die yskas gehad wat nie meer baie lank sou hou nie. In plaas van yoghurt gebruik ek toe die cream cheese. Ja, ek weet, korsies van pastei as daar nie brood is nie...

So...
Wat jy nodig het:
Lamsvleis - nie baie vetterige vleis nie, ek het boud tjops opgesny vir die kerrie.
Aartappels, uie en wortels.
Dalk ook 'n klein butternut opgesny
Speserye
Room kaas (omtrent 'n hele bakkie as ek moet skat)
Tamatie puree (klein blikkie of sakkie)
Stock (Ina Paarman se chicken stock werk ook goed)

Die proses is baie eenvoudig:
Sny die groente als in groterige blokke.
Pak die groente in 'n oond pot of bak wat jy met foelie en 'n deksel kan toemaak.
Sit die vleis bo-op en gooi die mengsel (sien hierna) bo-oor.
Bedek met foelie en sit in die oond teen 180-200C vir 2:30-3 ure.
As jy die reuke wat uit die oond kom kan ignoreer is dit beter hoe langer jy dit inlos. 2h30m ideaal.

Die mengsel: (alias: magic, cook-in-sauce)
Sit roomkaas 'n paar sekondes in mikrogolf sodat dit sag raak.
Gooi 2 koppies kookwater bietjie bietjie daarby en meng tot glad.
Gooi tamatie puree en stock by.
Gooi jou speserye in.(Nog ondertoe)
Meng die spul goed en gooi bo-oor die vleis.

Die speserye:
Moenie bang wees vir speserye nie, gewoonlik die fout wat mense maak met kerrie is om te min in te gooi. Die hele mengsel as jy klaar is is nogal baie speserye.
'n Paar heel Allspice (nie noodsaaklik nie)
5-6 heel Naeltjies
Heel kaneel. (Ontrent kwart of minder van 'n vol "rolletjie" opgebreek) (Daar is 'n verskil tusen kaneel en acasia bas wat hulle partykeer ook verkoop as kaneel.) As dit hard is gooi die liewer heel apart in by die mengsel)
1t Fennel saad
1t Heel swart peper
1t Heel Koljander
2t Cumin
2t Fenugreek
Poppie saad as jy het.
1/2 t gerookte Paprika
10+ Cardamons (uitgedop)
Chillies - vars/gedroog of fyn. Moenie te veel ingooi nie. Hierdie moenie bek-brand warm wees nie.
..en borrie (1t) Ek het dit vervang met 2t Raja kerriepoeier.
O-ja, sout ook.

Die geheim met 'n kerrie is om self speserye te roast en te maal. Gebruik 'n droe pan en gooi al die (heel) speserye daarin. Braai dit totdat dit geurig begin raak en van die kleiner speserye begin pop. Moenie dit brand nie. Maal dit dan als fyn in 'n pestel en mortar en gooi by jou mengsel.

Die voorbereidingswerk hiervoor is nie baie lank nie en dis die moeite werd om te wag tot dit reg is.

Geniet dit!
Dirk