Sunday 27 June 2010

Sprouts en Sole

Ek glo dat mens is die som van 'n paar goed, dit wat jy doen en optree het 'n invloed op wie jy is en hoe jy is.
En dit wat jy in jou liggaam insit is uit die aard van die saak waarvan jou liggaam gemaak word. As jy 'n pakkie chips eet, is die kanse baie goed dat daar van dit wat in die pakkie chips is iewers in jou sisteem gaan agterbly vir baie lank.
As jy gemors insit gaan jou arme liggaam sukkel om die goed te gebruik waarvoor dit nodig is en die wat hy nie kan gebruik nie te sukkel om uit te skei of te bere. Vet is nogal 'n goeie bereplek vir die gemors wat jy nie uitgeskei kry nie en dit is veral handig as jy genoeg eet om vet te he om die gemors te stoor. In die lig van hierdie geweldige insig, wil ek vertel van goeie goed om te eet wat ek op afgekom het...

Sprouts
Nou kyk, ek is nou regtig nie 'n kenner van gesondheidskos nie en wat het alles wat in nie, maar ek weet dat goeie kos nie moet dood en verwerk wees nie, hoe varser, lewendiger en hoe minder geproseseer en verbrand hoe meer voedingswaarde het dit eintlik in.
Sprouts is sade wat onkiem het. Daar is blykbaar ongelooflike goed aan die gebeur met die saad as dit ontkiem en dit is een van die beste goed wat ons as mense kan eet. Dit het aansienlik meer voedingswaarde in as wat jy die saad net so sou geeet het.
Hierdie ou het die konsep nogal nice verduidelik en sy produkte is goed. Ek het een van die sprout stands gekry en dit werk soos 'n bom.


http://www.kitchengarden.co.za/

Dit kan gebruik word in slaaie, op toebroodtjies, in sop, kerrie, stirfry, net verbeelding. Hy het nogal 'n resep op die site vir 'n brood wat nogal uniek is. Een van die veranderinge wat ek gemaak het om te eet is om in plaas van margarien op brood eerder geroomde maaskaas op te sit, saam met sprouts op 'n toebroodtjie of bagel is dit nogal iets besonders en baie baie gesond.

Himalyan Crystal salt
Ek het die voorreg gehad om Joseph van kitchen garden te ontmoet en hy oorreed my toe om te kyk na Hymalyan Crystal salt en dit te probeer. Dit is nie gewone sout nie. Met die oplees oor dit behoort dit iets ongelooflik te wees as die helfte wat daarvan geskryf word waar is. Opgelos in water word dit Sole genoem en dit bevat al die elemente wat jou liggaam nodig het om optimaal te funksioneer.

Genoeg vir 'n Sondagaand!
Dirk

Tuesday 4 May 2010

Groot Veranderinge

Ek weet ek was bietjie stil die laaste paar maande, maar ek het nie veel van kosserasies te vertelle gehad nie want ek het self maar baie boring kos gemaak die laaste paar maande. Vir die wat nie weet nie is ek weer na baie jare single en dit het sy eie challenges. Die voordeel daarvan is dat ek uiteindelik besig is om die ekstra kilos wat ek saamgedra het van ontslae te raak. Ek sal 'n foto insit sodra ek tevrede is dat dit lyk soos ek wil hê dit moet lyk.

Maar aangesien my blog oor kosserasies gaan kan ek miskien iets skryf van die proses waardeur ek is. Daar is aansienlik meer en belangriker goed om moontlik oor te skryf as kos, maar vir hierdie doeleindes moet dit maar lapaside staan. Aan die ander kant is daar ook die sêding dat mens is wat jy eet. Wat mens eet het so 'n belangrike bydrae tot mens se alledaagse welstand dat dit miskien wel een van die belangrikste dinge is wat oorweging moet kry. Daar is baie mense wat soos ek gewig wil verloor en miskien kan my blog dalk vir iemand die bietjie motivering gee om dit te doen.

Wat ek gedoen het die laaste ruk is:
Twee of meer protein shakes 'n dag en een ete = 17kg in 4 maande.
Dis 'n eenvoudige som: Gewigsverlies = energie inname - verbrand vir die dag.
So hou die inname laag en verbrand meer en dit werk dubbeld so goed. Om meer te verbrand bou meer spiere want groter spiere verbrand meer energie. Om minder in te neem, eet eenvoudig minder en beter goed. Dit is regtig so eenvoudig soos dit.

Daar is regtig baie inligting daar buite van diete en kitsgoed wat baie beloftes gee en wat ook werk, maar die bottom line is om gewig te verloor moet jy minder kos inneem as wat jy verbrand, maak nie saak hoe jy daarna kyk nie. Om gesond uit die proses te kom, liggaam en siel, is die uitdaging. Goeie kwaliteit proteine en koolhidrate en so min as moontlik vet is belangrik. Wat ek probeer is om my koolhidraat inname vir die dag minder as 50% van my totale energie vir die dag te hou. Ek probeer sover moontlik vetterige goed uitskakel, maar vermy dit nie. Eet eerder 'n gebakte aartappel in plaas van chips.

Die ander kant van die muntstuk is motivering. My motivering het gekom van 'n egskeiding wat mense se lewe in so mate verander dat jy alles in heroorweging neem. Gesondheid en lewensstyl heel bo aan die lys. Sonder dat jy agterkom is jou lewe in 'n roetine en die roetine is nie regtig wat goed is of wat jy dalk in gedagte gehad het nie, maar dit is maar soos jy is en dit gaan aan. Gee dit 'n paar jaar kans en skielik sit jy met gesondheidsprobleme, bloeddruk, jig, sukkel om jou veters vas te maak. Dan praat ek nie eens van verhoudingsprobleme nie. Ek wil vir enigiemand wat hierdie lees sê dat dit nie te laat is om dinge te verander nie en dat dit absoluut die moeite werd is om dit te doen. Moenie wag dat iets jou dwing om dit te doen nie. Nie net eetgewoontes nie, maar ook lewensstyl en jou uitkyk om die lewe. Ek het vanoggend op die radio gehoor van 'n ouma van 83 wat valskermspring gedoen het! Dan is dit sowaar nie onmoontlik om na 40 fiks te word en goed te lyk nie! Een van my gunsteling quotes is: "You are what you repeatedly do." Logika dikteer dan ook dat as jy stop en verander dit wat jy oor en oor doen dat jy gaan verander.

Genoeg gefilosofeer, ek wil darem ook iets skryf oor wat nice is in die lyn van kosserasies. Een van die goed wat en nogal geniet is bagels. Ek het in 'n baie groot mate brood uitgeskakel, meesal oor praktiese redes. Ek gooi in elk geval die helfte weg elke keer. 


Bagels - een van die beste broodgoed wat ek nog teegekom het. Nie die buns met 'n gat in wat die winkels partykeer verkoop nie. Regte bagels het 'n ander tekstuur en dit kom daarvan dat dit eers gekook word voordat dit gebak word. Ek koop gewoonlik sommer 'n paar dosyn op 'n slag, sny hulle deur en gooi dit in die vrieskas. Soos wat ek een nodig kry haal ek dit uit en pop dit so gevries in die toaster en voila, dit is net so lekker soos dit vars was. My aandetes bestaan gewoonlik uit 'n blikkie tuna op 'n bagel. Daar is oneindige variasies van die tema, avo by dit, mayonaise, sprouts, slaaiblare, roomkaas, maaskaas, chillie. Net verbeelding.
Die enigste plek wat ek van weet wat regte bagels verkoop in die Kaap is New York Bagels in seepunt. Die ander opsie is bak dit self. Google net "bagle recipies" en eksperimenteer bietjie. Ek het dit al gemaak en dit is baie nice. Kyk vir 'n resep wat vra dat die deeg oornag in die yskas staan voor dit gekook en gebak word, dit is die beste.

Groete
Dirk

Wednesday 3 March 2010

Oor braaibroodjies en noodles

Deesdae is ek op my eie en kry nie regtig so gereeld die geleentheid om vir ander, of  for that matter vir myself, kos te maak nie. Protein shakes werk in elk geval beter vir die tjoep.


Maar mens moet eet ook en waarom dan nie dit die moeite werd maak nie.

Wat is 'n braai sonder 'n braaibroodtjie?
Iets wat hulle op ‘n pizza doen het my nogal die idee gegee om roomkaas te probeer. Na ‘n paar probeerslae dink ek ek het die beste metode uitgefigure:
Van bo na onder moet die volgende die presiese volgorde wees, ander volgordes werk net nie dieselfde nie:
  • Sny brood met margarien of botter gesmeer
  • Tamatie baie dik gesny; +- 5 mm.
  • Sout op die tamatie
  • Kaas – gesny, nie gerasper nie, dit hou die tamatie soortvan eenkant ook.
  • Uie, gesny so dun as wat jy kan.
  • Baie swart peper op die uie.
  • Roomkaas op die ander kant se gesmeerde broodjie.
Ek hou van die plein roomkaas, maar ek is seker van die ander geure gaan ook werk. Om die roomkaas te smeer, sit dit net ‘n paar sekondes (10 of minder) in die mikrogolfoond, dit word dan heel sag om te smeer. Moet ook nie skaam wees oor die hoeveelheid roomkaas nie.
Braai die broodjie totdat die kaas in die middel gesmelt het. Dit los vir jou met 'n crispy buitekant en 'n binneste wat sag is sonder om soggy te wees.

Vir die kinders maak ek partykeer net two-minute-noodles. Dit hoef ook nie so bad te wees soos dit uit die pakkie uit kom nie. Met geen ekstra moeite en min koste, kan dit verander word in iets baie besonder. Gooi in die water saam met die noodles en geursel omtrent 'n kwart van die ronde ringe Feta kaas en 'n teelepel botter of margarien. Wat daar uitkom is iets soortgelyk aan die tekstuur en smaak van Risotto. Die kinders (en ek) is mal daaroor!

Laat weet my as iemand dit probeer het of variasies hiervan gemaak het.

Sunday 14 February 2010

Chocolate Moes

Hier is een vir volgende jaar se Valentines dag:

Ek het op 'n stadium gedink dat aangesien ek like van kosmaak ek bietjie meer wil leer daarvan, toe koop en hierdie Amerikaanse Chef boek by Amazon. Die boek vertel toe hoe om sjokolade moes te maak.

Glo my ook, dis baie baie beter as die wat jy in die Spur kan kry of by Woolies kan koop.
Die truuk hiervoor is om nie ge-intimideerd te wees deur die een nie. Dit is nie so moeilik of baie werk soos wat dit dalk mag voorkom nie. Dit is dalk net baie skottelgoed...

5 Eiers
2 teelepels Water
250 ml room
3 slabs (300g) sjokolade (donker/bitter)
45g Botter


Jy het heelwat bakke nodig:
• vir die eierwitte se klits
• vir die room se klits
• glasbak vir die smelt van sjokolade
• glasbak vir die eiergele
• groot bak vir alles se meng
• pot vir water kook

Skei die eiers.

Klits die eierwitte en helfte van die suiker totdat dit styf is (as jy die bak omkeer en dit val nie uit nie is dit reg)

Sny die sjokolade so fyn as wat jy wil of kan, hoe fyner hoe makliker smelt dit.

Vir die smelt van die sjokolade is die beste metode om dit oor stoom te smelt. Om dit te doen gebruik 'n pot met bietjie water, kook die water om stoom te maak. Gebruik glasbak wat bo-op die pot pas om die sjokolade te smelt. Microwave of direk op die plaat werk nie, jy het die geleidelike gladde hitte nodig. Smelt die botter/margarien saam met die sjokolade. Roer aanhoudend totdat alles gesmelt is.

Gebruik dieselfde metode vir die eiergele. 'n Glasbak bo-op die pot met kookwater. Gooi die helfte van die suiker die twee teelepels water by die gele en klits/roer aanhoudend en vinnig oor die stoombad. (Die boek se 15 sekondes) Die eiergele moet "gaar" raak maar nie stol nie. Roer dit totdat dit begin dik en romerig raak. Sodra dit reg is haal onmiddellik van die hitte af en hou aan met roer want die bak is warm en gaan dit nog steeds stol. 'n Draad handklitser werk goed hiervoor. Dit moet nie lyk soos scrambled eiers nie.

Klits die room styf, maar nie te styf nie, dit moet punte maak, maar nie tot botter stadium geklits word nie!

Nou vir die mengslag -
Vou die eiergele in die eierwitte. Gebruik 'n rubber spatula vir die affere. Vat bietjie van die witte en meng dit in die gele sodat dit bietjie ligter is om in te vou.
Doen dieselfde vir die gesmelte sjokolade. Vou dit nou in die eiermengsel. Moenie bekommerd wees as dit nou na 'n flop lyk nie, dit kom reg na die room.
Laastens vou die room in. Jy het sjokolade moes gemaak.

Dit moet koudgemaak word voordat dit opgedien word. Gebruik jou verbeelding oor wie dit gaan eet, wanneer en watse okasie dit is vir die opdiening daarvan. Om dit nog meer dekadent te maak, maak Ganache en sit repies daarvan in en op die moes, maar dis 'n storie vir 'n ander dag.

Ek het al met gemengde sukses 'n chillie variasie gemaak. Moenie gril nie, chillie gaan great saam met shokolade. Die eerste probeerslag het uitgekom soos tameletjie. Ek het probeer om die chillie te infuse deur dit in 'n suikerstroop warm te maak. At least het die my oudste seun geleer chillie eet. Dit het die sterkste, lekkerste chillie-chocolate-tameletjie gemaak!
Met bietjie navorsing het ek gelees iemand stel voor dat die jy die chillies in botter warm maak om die chillie te infuse. Gebruik dan net die botter in plaas van  die van die resep as jy die moes maak. Iemand anders  op die internet het bietjie cayene pepper voorgestel.
As iemand 'n idee het oor hoe om die chillie behoorlik in die sjokolade moes in te kry, laat weet gerus.

In terme van fotos hiervan, verbeel maar hoe lekker dit is, dit is.
Dis glad, romerig, dekadent. Absoluut romanties!