Showing posts with label suurdeeg brood. Show all posts
Showing posts with label suurdeeg brood. Show all posts

Monday 18 December 2023

Suurdeeg Brood

 


Ek bak nou al vir so bietjie langer as drie jaar suurdeeg brood en het in die tyd heelwat veranderinge gemaak om dit makliker te maak om te bak en in stand te hou. 

Ek wil graag bietjie van hierdie insig deurgee.

My starter se naam is Agmed. Hy bestaan uit 'n biome van lewendige organismes wat hou van carbs. 'n Goeie analogies is soos 'n mikroskopiese vistenk met verskillende vissies, plante, guppies, shrimpies, en ander organismes. Almal leef mooi saam en elkeeen doen hulle eie ding en leef saam in hulle community.  

Hy is nie vol nonsens nie maar hoe beter jy na hom kyk hoe beter gaan hy vir jou werk. 

Agmed woon in die yskas. Hy kom net uit om saam te speel as ek hom nodig het. As hy paar weke in die yskas is sonder om kos te kry gaan hy honger wees en jy moet hom eers voer voor hy optimaal gaan werk. 'n Dag of twee tot 'n week is hy great vir net so uit die yskas uit werk. 

As ek hom klaar gebruik het voer ek hom (selfde gewig meel as water). Een van die lesse wat ek geleer het is dat beter water maak defnitief 'n verskil. Hy werk ok met kraanwater maar is net soveel beter met goeie water sonder chloor. Die meel en waarmee jy hom voer maak ook verskil oor hoe aktief hy is en hoe hy oor tyd reageer. As jy nou en dan verskillende mele gebruik gaan jy oor tyd verskillende organismes toevoeg tot die biome. As jy nie iets anders het nie gaan Sasko meel werk om hom aan die gang te hou maar weereens hoe beter die meel is hoe beter gaan hy raak. Vir algemene gebruik is gewone goeie kwaliteit witbrood meel perfek.

As hy gevoer is gee ek hom kans om uit te rys en net effe terug te val voor ek hom weer terugsit in die yskas. Die koue verlaag sy metabolisme. Dit kan selfs gevries word of uitgedroog word en jy kan hom weer aan die gang kry as jy hom begin kos gee. 

Hoeveel jy hom voer is nie so belangrik nie. Ek bak gereeld baguettes en ek voer hom genoeg sodat ek dit net so uit die yskas kan gebruik om baguettes aan te maak en bietjie oor het om weer te voer. Ek doen omtrent so 150-180g meel en dieselfde gewig water. 

Dit is 'n liter glas pot wat vol is as hy mooi op sy sterkste is. 

Hoeveel starter jy gebruik om te voer maak ook nie verskriklik saak nie. Engiets van 'n teelepel starter is genoeg om binne 'n dag te vermeerder tot kilogramme as jy nodig het. My gewoonlike metode is om net die skraapsels in my starter pot oor te hou en dan net meel en water by te meng.

Agmed se werk is om die meel te eet en koostofdioksied te produseer wat dan jou brood laat rys. 

Vir goeie brood het jy gluten nodig. Dit is onvermeidelik. Sonder dit gaan jy nie 'n ordentlike brood kan bak nie. Die gluten vorm 'n net wat die gas behou wat uitsit as dit warm word en dis hoe jou brood rys. Gluten het 'n slegte naam as jy nie weet wat dit is nie. Mense reageer nie goed op die normale winkel brood wat met swak meel en die kistsgis gebak is nie en blameer gluten. In werklikheid moet hulle die groot maatskappye wat derduisende brode so goedkoop moontlik en so vinnig moontlik op elke winelrak sit blameer.  Daar is baie min mense wat regtig gluten intollerent is maar baie meer wat 'n reaksie het op die kits winkel brood. 

Die aard van die oorblywende koolhidrate in die brood word verander deur die organismes in die starter. Hulle eet 'n redelike gedeelte daarvan ook op voor jy die brood bak. As 'n voorbeeld en hierdie het ek al getoets. 100g starter, 100g meel en 100g water is 300g as jy die meng. As jy dit tyd gee en so paar ure later weer weeg dan weeg die 300g net 270g. Die starter het 30g koolhidrate verteer. Dit gebeur NIE met kistgis nie!

Sover het ons twee bestandele, meel en water. Die derde een wat nodig is om brood te bak is sout. MOENIE iodated "see how it runs" sout gebruik nie! Die iodine is baie sleg vir die orgnismes en is in die sout gesit om enige organismes dood te maak. Fyn pienk himalyan crystal sout is my go-to.  Dit is al die bestandele. Meel, water en sout! Die starter is ook net meel en water.

Om met al die 'n mooi brood uit die oond te haal is ook nie rocket science as jy die boonste verstaan nie. Jy het gluten nodig (hoe meer hoe beter). Goeie witbrood meel het baie. Volgraan en bruinbrood meel minder en rye geen. So as jy gluten nodig het vir 'n mooi brood dan is witbrood meel belangrik. Maak nie saak watter ander meel ek bebruik nie doen ek gewoonlik ten minsens 50% witbrood meel vir bak. 

Suurdeeg brood word nie geknie nie en daar is ook 'n rede daarvoor. Jy rek en strek net die gluten. Jy wil dit so rekkerig as moontlik kry. Dis 'n gentle proses. Jy wil nie die gluten stringe breek nie. Na elke rek en vou proses relax dit en dit raak langer en beter om die gasse binne te hou as jy bak. Dit is belangrik om die struktuur van die brood mooi te kry. 

As jy gaan navorsing doen is daar heelwat metodes en stappe om suurdeeg brood te bak maar as jy verstaan watter rol die starter en die gluten speel in die brood is dit maklik om te doen.

So daar is 'n paar terme en stappe in die broodbak wereld wat dalk verwarrend kan wees:

Bakers ratio -  Jy kan nie brood bak met koppies en maatbekertjies nie. Als werk met gewig want dit werk net. Die ratios is per die gewig van die meel - so jy HET 'n skaaltjie nodig. Dis baie goedkoop by enige chinatown. Jy kan enige hoeveelheid meel gebruik en die ratios gaan vir jou aandui hoeveel van die ander bestandele nodig is. Die hidrasie persentasie is belangrik want dit is hoeveel water in die brood kom. Ek sit so vinnige cheat sheet onder aan wat jy kan uit druk vir die persentasies.

Autolease - Dit gebeur outomaties as jy meel en water meng. Dit is wanneer die twee proteine in meel, wat saam gluten vorm, verstrengel raak en die gluten stringe vorm. Dit het bietjie tyd nodig. Ten minstens 'n halfuur dan het dit gebeur. Dit hoef nie apart gedoen te word nie. Of jy nou die sout en starter gaan bygooi of nie dit GAAN gebeur as jy water met meel meng. So dit IS NIE nodig om apart te doen nie. Ek het al probeer om dit as aparte stap te doen en as dit enige verskil maak kon ek dit nie agterkom nie.

Strench and fold - Dit is die rek en strek van die gluten om dit langer te maak. Dit is baie belangrike stap want dit gaan jou gluten voorberei om die gas te behou wat die suurdeeg gis afskei. Twee tot drie keer ten minstens vir 'n broodjie. As ek baguettes maak doen ek dit gewoonlik net een keer want die manipulasie van die deeg as jy baguettes vorm doen dit ook.

Bulk fermentasie - Dit is maar net wanneer jy na die stretch en fold die starter los om sy ding te doen. Dies nie iets wat jy moet doen nie. Hom net los. Die fermentasie gaan begin die oomblik wat jy die suurdeeg gis by die meel sit. Dit neem omtrent so 4-6 ure in die somer. In die winter hou ek hom maar lekker warm en snoesig. Ek reken gewoonlik op so 5 ure. As jy dit te lank los gaan die gis begin suur afskei wat weer die gluten begin afbreek. En die gluten se struktuur is nodig... 

Shaping en preshaping -  Dis die vorm van die deeg as dit klaar is met die bulk fermentasie. Dis eintlik ook 'n belangrike proses as jy wil 'n baie mooi brood kry. Ek het nog nooit in twee stappe gedoen nie. Daar is heelwat youtube videos oor dit en ek stel voor kyk na 'n paar.

Koue fermentasie - Nie streng nodig nie maar dit maak net so 'n lekker brood as jy dit doen. Jy kan die verskil in die smaak en struktuur agterkom. Ek sit my deeg in die yskas oornag na dit klaar is met die bulk fementasie.(Dit het so +- 50% vermeerder) Dit verlaag die gis se metabolisme en dit fermenteer dan stadig verder oor nag. Dit is ook baie makliker om met die koue deeg 'n mooi brood te bak want die deeg is fermer en makliker om te hanteer om in die oond te sit.

Scoring - Dit is hoe jy die brood sny voor jy dit in die oond sit. Met jou gluten nou mooi sterk en die koolsuur gas vasgevang daarin gaan die gas begin uitsit as dit warm word en hy gaan in alle rigtings onbeheerst oop bars. Om dit te sny is jy in beheer van die oop bars proses. Weereens daar is heelwat youtube videos besikbaar en dit is wat die artists onderskei van die hoy poloy soos ek. 

Bak - Die suurdeeg deeg word teen 'n baie hoeer temparatuur gebak as wat "gewone" brood gebak word. Belangrik weereens om net die gluten proses te verstaan hier. Jy wil die buitekant van die brood sag hou terwyl die binnekant van die brood warm word en die gasse kan uitsit.  Dit is waarom die meeste mense 'n dutch oven gebruik. Ek het net 'n groot swart pot met 'n deksel sodat die stoom wat uitkom vasgevang word in die pot wat dan die buitenste gluten in die brood sag hou terwyl die proses plaasvind. Dis die "oven spring". Ek verhit die pot in die oond so warm soos die oond kan gaan. Dis omtrent so 270 Celcius. 20 minute met die deksel op en sit dan die temp bietjie af tot so 250 celcius en dan nog 20 min met die deksel af.

Op die einde is die proses eintlik heel envoudig as die suurdeeg gis toelaat om sy werk te doen en jy die gluten respekteer. Wat jy van jou kant moet doen:

  1. Maak die brood aan. Sit als by, meel, water, gis, sout en enige geursels en toevoegings. 
  2. Doen 3 stretch-en-folds. 1/2 uur na 'n uur uit mekaar. 
  3. Vorm die brood as hy klaar gerys het. 
  4. Sit in die yskas
  5. Sny en bak hom. 
  6. Laat hom afkoel. 

Die hele proses van aanmaak tot jy hom uit die oond haal verg minder as 20 minute van jou tyd. 

Lekker bak!

Dirk

 




 

 


Sunday 14 August 2022

Regte Brood Mense

 Ons het gister ons eerste Suurdeeg brood werkswinkel gehou! Dit was 'n ongelooflik lekker om al die mense te ontmoet en dit was hope pret. Tafels en hande vol deeg maar ons het brood aangemaak en lekker gesels oor die brood en suurdeeg gis en metodes. Dankie vir almal wat daar was, saam kan ons 'n brood rewolusie begin! Viva!

Baie dankie aan Piet en Olga van The Welgemoed Guesthouse vir hulle gasvryheid en om dit in hulle ongelooflike kombuis te kon doen!

Ek het dit goed gedink om bietjie meer inlgting deur te gee en te wys wat ek met my brood gedoen het wat ek gister by die werkswinkel aangemaak het. 


 Hier is links na my vorige posserasies oor die brood en gis:

Agmed, my suurdeeg monster, het 'n rukkie terug sy tweede versjaarsdag gehad, hier vertel ek hoe hy in wording gekom het:

https://kosserasies.blogspot.com/2020/09/ontmoet-vir-agmed.html

Lesse geleer en tips en truuks:

https://kosserasies.blogspot.com/2022/03/suurdeeg-brood-lesse-geleer-tips-en.html

Verseker sukses

Ek het met die brood bak heelwat mislukkings en plat brode gehad, navorsing gedoen en meer geleer en weer probeer. Die volgende is vir my die sleutel aspekte wat gaan veseker dat jy mooi broodtjies gaan kry. 

Tyd, temperatuur en fermentasie

Tyd is een van belangrikste bestandele om mooi brood te kry. Die suurdeeg gis het tyd nodig om hulle werk te doen. Dit gaan die smaak, tekstuur en vorm van jou brood bepaal. Dit gese moet jy dit nie oordoen nie. As jou brood oorfermenteer is gaan jy sukkel om die struktuur te hou en hy gaan redelik plat uitbak. Die suur wat in die brood vorm terwyl hy fermenteer gaan die gluten wat nodig is om die struktuur mooi te kry afbreek en hy gaan plat wees. 

Jy is in beheer van die tyd. As dit koud is gee hom langer tyd. Ek werk min of meer op 7 ure in die winter van aanmaak tot ek dit in die yskas sit vir bak die volgende dag. In die somer nie langer as 6 ure nie. Jy kan ook die hoeveelheid wat dit rys dophou. Dit moet nie meer as 25% tot 50% vermeerder nie.

Temperatuur werk hand aan hand met tyd. Hoe warmer dit is hoe vinniger gaan jou suurdeeg werk. Ek verkies om die brood teen die ambient temperatuur te laat rys. In die winter kry ek gewoonlik beter brood want ek is geneig om dit te lank te los in die somer en dis makliker vir die brood om te oorfermenteer.

As jou deeg koud is voor jy hom sny en bak hou hy sy struktuur beter tot hy begin vorm in die oond. As ek weet my brood is effe nat of bietjie oorfermenteer dan het ek dit al in die vrieskas gesit terwyl die oond warm word. Dit help. 

Hidrasie

Gebruik 'n skaal! Dit is belangrik om te weet wat die hidrasie is. As jou brood redelik nat is dan gaan dit moeiliker wees om sy struktuur te hou. As jy sukkel hiermee eksperimenteer en gebruik 60% hidrasie tot jy al die ander aspekte ook mooi reg het. Vir my werk 70% tot 75% die beste.

Struktuur

Strek en voue is 'n baie gelangrike aspek om nie 'n plat brood te kry nie. Doen die venster toets om seker te maak sy gluten struktuur is goed.

Vorming van die brood voor die yskas is een van die sleutel aspekte. Kyk gerus een of twee van hierdie ou se videos oor hoe om goeie struktuur te kry, ek het baie daar geleer:

https://www.youtube.com/channel/UC7eLtGAzNECUqurqMdiNYJg

In kort as jou brood nie so mooi hoog uitkom nie is dit een of meer van die volgende:

  • Oorfermentasie
  • Hidrasie te hoog
  • Interne struktuur en vorming nie sterk genoeg nie. 

Hier is 'n link van die fotos van die werkswinkel, meestel geneem deur Daniel. 

 https://photos.app.goo.gl/fUhRh3Xcsvx5Wemu9

'n Laaste woord van dankie aan Gwynneth, ek weet nie wat ek sonder jou sou doen nie!

Lekker bak!

Dirk


 

 

 

 

 


Saturday 16 July 2022

Olyf tapenade Braaibroodjie

 Die donnerse Eskom. Hulle het ons nou al in 'n Stockholm syndrome. Ons is daadwerklik DANKBAAR as hulle die slag ons krag aanskakel. 

Die ergste tydgleuf is die 18:00 tot 20:30 een. Dis gewoonlik wanneer ons aandete maak. So ons moet voor 6 klaar wees of eers in die middel van die nag eet. Braai is ook 'n opsie, jy het nie elektrisiteit daarvoor nodig nie. Die hele buurt het gisteraand dieselfde idee gehad en dit was 'n fantastiese aand. Gwynneth het met die hond gaan stap en sy het rapporteer dat daar oral vuur gemaak word. 

Die storie gaan egter nie oor stupid Eskom nie maar oor die braaibroodjies. Ek het al voorheen hieroor geskryf maar moes net weer en ook paar fotos insit. 

Agmed, my suurdeeg starter, woon nou in die yskas terwyl hy nie baie gebruik word nie. Ek moet hom egter steeds so nou en dan voer. Hy was al twee weke sonder kos en ek het al gehoor hoe honger is hy. Terwyl hy uit is het ek gou 'n broodjie aangemaak vir 'n vriend wat die volgende dag sou oorkom. Die broodjie het baie mooi uitgekom. My vriend was egter ongesteld en kon nie meer oorkom nie. So wat gemaak met die broodjie? Ons doen die Keto ding en wil nie regtig daarvan eet nie. Ek kon dit weggee vir my buurman wat ek weet is gek oor die brood. 

Die redenerig was egter: Krag af teen 18:00 - het broodjie - braai - Braaibroodjies!! Jammer Daniel en Keto.

Braaibroodjies metode en bestandele

  • 1 Tuisgemaakte Suurdeeg Brood
  • Roomkaas
  • Botter
  • Uie
  • Tamaties
  • Peper
  • Sout 
  • Kaas

Die suurdeeg brood maak absoluut ongelooflike braaibroodjies. Dit is nie eers in dieselfde voedselgroep as om dit met Sasko brood te doen nie.

Die braaibroodjies is 'n beproefde metode en verg 'n spesifieke volgorde van die bestandele. Daar is method in the madness. As ek nou 'n goeie voorbeeld van sinergie moes kies is dit hierdie braaibroodjies.

Vervaardig die broodjie as volg:

  1. Sny brood
  2. Roomkaas
  3. Baie dun gesnyde uie. 'n Mandolin werk goed as jy een het. Dit moet papierdun wees. 
  4. Peper op die uie
  5. Gesnyde kaas. Die kaas vorm 'n laag tussen die uie en tamatie. Dit moet nie gerasper wees nie. 
  6. Dukkerig gesnyde tamatie op die kaas. Weereens Mandolin werk goed. 
  7. Sout op die tamatie
  8. Botter op die tamatie
  9. Sit sny brood bo-op die stapeltjie. 

Vir die braai:

Draai vinnig terwyl dit braai. Moenie dat dit brand nie! Dit is reg wanneer die eerste kaas in die vuur drup. 

My vuur was effe kwaai en ek moes omtrent soos 'n human rotisserie oppereer om dit nie te laat brand nie. Ek het ook bietjie botter gesmelt en opgesmeer aan die buitekant. Dit gee ook 'n klein veiligheidsmarge. 

Onder paar fotos van die proses.

So waar kom die olyf tapenade in die storie?

Dit was 'n eksperiment. Ek het 'n groot klomp olywe gekry en het tapenade gemaak met Anchovies, capers, lemmetjies ens. 

Een van die broodjies het ek die tamatie vervang met 'n dik laag tapenade. Die res was presies dieselfde, roomkaas, uie botter ens.

Mense dit was braaibroodjie 2.0! 

 

Groete!

Dirk



Tuesday 21 June 2022

Koolhidrate

 Oor Koolhidrate en kosmaak

Covid, lockdown, van die huis af werk en lekker kosmaak het my toestand bietjie verswak en ek moes redelik dringend 'n plan maak. Ons besluit toe om die "low carb" ding te doen. Noem dit Keto, LCHF, banting of hoe ook al, die gedagte is om die koolhidrate uit te sny. 

Tot dusver is die resultate uitstekend. Meer energie, meer klere in die kas wat pas en net 'n algemene gesondheids verbetering. 

Ongelukkig sluit die koolhidrate voedselgroep die sourdough brood in. Dis nie noodwendig 'n slegte ding nie want ek bak elke twee weke vir ons 'n broodtjie of baguettes en dit is dan lekkerder as ooit! Met hierdie tipe eetery is die tekstuur van die brood die een ding wat ek mis. Dit kan net nie met enigiets vervang word nie. 

Ek wil vandag 'n resep deel van een van die lekkerste geregte wat ek in 'n baie lang tyd gehad het. Ons het gisteraand 'n tamatiesop gemaak. Daar is egter 'n hele aanloop hierna wat ek eers wil verduidelik. 

Aftreksel (Broth)

Die eerste bestandeel vir hierdie fantastiese sop is 'n been aftreksel wat nou 'n stapel voedsel by ons is. Dit kan bees, skaap of hoender wees. Ek het nog nie die moed gehad om 'n vis een te maak nie maar dit is op die lys.

Die proses is om die hel uit vleis bene uit te kook en dan al die solids uit te sif en te strain. 

My metode en bestandele vir rooivleis:

  • Klomp bene (tot 1kg)
  • Water (soveel soos jou pot toelaat)
  • Eetlepel of twee goeie asyn
  • Groen groente - Enige gaan werk maar dink aan die smaak wat dit gaan gee aan die broth. 
    • Bv Kale, Seldery, Spinasie ens
    • 'n Wortel (Dit gaan uitgehaal word so moenie worry oor die koolhidrate nie)

Was eers die bene behoorlik om alle ou bloed ens af te was. As dit nie genoeg is nie doen dan die volgende:

In a groot pot met baie water kook die bene baie hard en skep alle skuim af. Sodra daar geen meer skuim gevorm word nie haal al die bene uit. 

Bak die bene in warm oond of air fryer met bietjie sout tot die bruin is. 

Plaas hulle terug in die vloeistof en sit jou groente en asyn by. 

Ek kook myne in 'n stoompot vir twee en 'n half ure wat my omtrent 2 liter gee as dit klaar is.

Haal al die solids uit en gee vir die hond. Strain die vloestof deur 'n lappie om dit mooi skoon te kry. 

Sit in 'n houer in die yskas. As dit koud is haal die laag vet af wat bo-op gevorm het. Dit kan vir iets anders gebruik word.

As jy dit reg gedoen het dan is die broth in die yskas soos jellie. 

Vir hoender broth is die baie dieselfde. Gebruik egter 'n heel hoender of stukke en braai dit in die oond tot gaar.

Ek doen die broth ding heel party keer vir ontbyd: Maak 'n koppie vol in die mikrogolf oond warm met bietjie sout, chillie en wat ook al geursels by waarvoor jy lus is. Gemmer, borrie of ander spices werk goed. Selfs 'n klein bietjie room by is verskriklik lekker. 

Tamatiesop

  • 4 - 5 Groot ryp tamaties (Ons het Roma tamaties gebruik)
  • 1 Rooi Soetrissie
  • 1-2 knoffel huisies
  • Vars kruie - opsioneel (Tiemie, origanum ens. Wat jy ookal die tuin het. Droe kruie kan seker ook werk)
  • 750ml Broth (Sien bo)
  • Sout en peper 
  • Chillie 
  • 1 ui

Metode 

Een van die beste aparate wat ek nog in die kombuis gebruik het is 'n air fryer. Dis soos 'n oond op turbo. Gebruik minder krag en neem 'n fraksie van die tyd. My aanbeveling is om een te kry as jy nie het nie. Hierdie kan in die oond gemaak word maar dit gaan sukkel om hoeveelheid geur in te kry as wat die vinnige hitte van die air fryer kan doen. Miskien kan ons 'n petiesie doen sodat Eskom dit kan subsidieer. 

Bak die soetrissie tot dit heeltemal swart is. Laat staan in bakkie met deksel of sakkie om te sweet en vee die buitenste skilletjie af as dit afgekoel het tot jy die kan hanteer. 

Sny die tamaties middel deur en sit met skil kant na onder in die air fryer. Smeer bietjie olyfolie op en strooi sout bo-op. Bak totdat die mooi verkleur het en effer verdroog het. 

Skil en sny die knoffel in flinders en sit in bakkie met olyfolie. Bak in air fryer tot hulle crispy en bruin is. Hulle kan maklik brand so moet dit nie te ver neem nie. 

Kerf en braai die uie en chillie in die pan. Ons het 'n baie cute klein pink peach reaper chillie gebruik. 

 Sit al die voorbereide bestandele saam met broth in 'n pot en kook vir 'n paar minute. 

Gebruik 'n hand blender om als fyn te maak. Voila!

Gremolata

Ons het nog 'n stukkie sourdough brood oor gehad wat op die kas gestaan het. Al so drie dae oud. Perfek vir gremolata. Die air fryer het ook hierdie na 'n ander vlak geneem. Een sny het ook darem nie genoeg koolhidrate om die appel kar om te gooi nie en dit was absoluut wonderlik saam met die sop. 

Metode en bestandele:

  • 1-2 snye ou sourdough brood (vars kan ook werk)
  • 1 heel stuk harde kaas (Pecorini of parmesaan)
  • 1 heel stuk Belee cheddar kaas.
  • Vars origanum

Blend alles to krummels en bak in oond of air fryer tot goudbruin. 

Variasie op die Gremolata is om ook 'n rou knoffel huisie saam te blend en ander vars kruie werk ook goed veral Basilie kruid.

Hierdie crunchie geurige souterige krummels was die Pièce de résistance by die sop!

 

Mooibly

Dirk