Wednesday 28 October 2009

Watterblommetjiebredie

Verlede week toe ry ek in die Boland by 'n padstalletjie in en kry daar toe die baie mooi waterblommetjies. Ek kon dit nie weerstaan nie en koop toe twee pakkies. Ek noem dit vir 'n vriend van my en die soebat toe dat hy sy lus vir waterblommetjies nie kan hou nie en dat ek seblief moet maak.



Nou ek het self baie jare terug laas waterblommetjies gemaak en het al groot flaters gesien met waterblommetjie bredie.
Ek en my vrou het eendag by mense op Hermanus geeet wat die blommetjies net so effens afgespoel het en net so gekook het, dit was aaklig om die minste daarvan te se. Ek het ook my vorige poging drooggemaak en dit was ook nie te wonderlik nie. Dis seker die dat ek baie skrikkerig was om dit aan te pak.


Die skoonmaak daarvan is die ander een waaroor ek nie so seker was nie. As 'n kind het ek heelpartykeer vir my ma gehelp om die blommetjies skoon te maak. Soos ek dit doen, kom dit toe darem terug. Breek die harde blare aan die buitekant af, sny die stingel af, sny alle lelike stukke uit en breek in twee. Dit word dan in soutwater laat le vir 'n paar ure, verkieslik oornag. Dit haal die dam uit die blommetjies (ook alle lewende hawe wat nog mag wegkruip daarin!)


Op die internet het ek 'n paar resepte nagevors en almal het dieselfte tema gehad. Nogal interesant dat selfs Wikipedia 'n artikel het oor waterblommetjiebredie; die oorsprong daarvan interesant om te lees:


Alle resepte wat ek gesien het het een ding in gemeen gehad en dit is datdaar surigheid by die blommetjies moet wees. 'n Vetterige stukkie skaapvleis is ook eintlik 'n moet. Ek sal verkieslik 'n stukkie ribbetjie of selfs 'n skaapstertjie of twee wil ingooi. My kookvleis was nie voldoende nie en ek het daar 'n pakkie saddle braaitjoppies ontdek wat rojaal, maar ideaal sou wees. Ek besluit toe ook om dit so min of meer soos 'n algemene bredie te maak.


Dis hoe ek dit toe gemaak het:


Waterblommetjie Bredie
Skaapvleis (+- 1kg)
Waterblommetjies (+- 1kg)
4 Aartappels
2 Uie
1 Knoffelhuisie
6 Swartpeper korrels
Braaisout
Witsous (sien onder)
Olyfolie vir braai van vleis.
3 koppies droe witwyn
Sap van ½ suurlemoen.


Braai die vleis in 'n swaar pot tot lekker bruin. Haal uit en sit eenkant. Sien die foto vir die proses.


Braai die uie en knoffel in die vleispot. Gooi bietjie wyn by om die braaisels los te kry.
Dit behoort in die pot gekook te word, maar weeksaande is daar nie tyd vir sulke dinge nie, so 'n stoompot maak net die proses baie vinniger.
Spoel die blommetjies goed af onder lopende water en inspekteer vir oulaas vir iets wat dalk nie in die pot moet beland nie.
Gooi alles buiten die aartappels en witsous in die stoompot. Stoom vir omtrent 10 minute.


Sny nou die aartappels in lekker klein blokkies. Gooi alles terug in die pot en sit aartappels in. Proe of dit sout genoeg is en gooi nog braaisout by indien nodig. Druk ook nou die halwe suurlemoen oor die pruttende pot. Prut totdat aartappels gaar is. Gooi dan die witsous by om die sous dik te kry.



Cheat Witsous
Wanneer die aartappels gaar is en jy het dit in die stoompot gemaak, dan is daar heel moontlik te veel vloeistof op die pot. 'n Manier om bredies se sous dikker te kry is om 'n witsous te maak. Van my ma het ek geleer om 'n basiese witsous te maak. Sy het altyd in die braaipan waarin die vleis gebraai was, meel in die vet gegooi, dit klein bietjie gebraai in die vet en dat vloeistof bygegooi en geroer tot dit dik word. Later sou ek leer dat dit in elk geval die basis is vir 'n roux, wat gebruik word vir die einste doel. 'n Roux volgens die teksboeke word gemaak van dieselfde hoeveelheid vet as meel. Die meel word gaargemaak in die vet. Daar word dan vloeistof bygegooi wat dan 'n dik sous maak. Wat ek nou gaan vertel is my cheat manier van 'n roux maak:
Neem 'n eetlepel margarien en 'n eetlepel koekmeel. (Of meer as jy meer sous het wat moet dik kom) Sit dit in 'n koppie of bak of iets wat mikrogolf bestand is. Nuke dit vir 'n paar sekondes totdat die margarien gesmelt is. Roer alles lekker deur en sit vir nog omtrent 60-90 sekondes in mikrogolf totdat die meel in die botter gefuse is. Dit lyk sommer asof dit gaar word. Voordat dit koud word, skep van die sous in die pot op die warm mengsel en roer vinnig deur. Jy sal sien dat daar 'n sous materialiseer. Gooi dan die dik sous terug in die pot en prut deur vir 'n paar minute.




My vriend met die blommetjie-lus was darem tevrede (of so se hy!)









Lesse wat ek geleer het in die proses:
  • Waterblommetjies kook nie so lank soos ek gedink het nie. Min of meer dieselfde as groenboontjies. (klaar in ag geneem in die kooktyd hierbo)
  • 'n Bietjie suiker (of selfs soetwyn sien ek se een resep) kan dalk goed wees. Dit is nie in my resep hierbo in nie. Besluit maar self.
  • Moenie bang wees om tog meer van die buitenste blare te los in die skoonmaak proses nie. Sny uit die wat baie hard is en ooglopend oneetbaar lyk.

No comments: