Monday 21 December 2009

Ete-rasies en gedagtes oor motivering.

Hoekom eet 'n mens? Heng, daar is baie meer redes as net omdat jy honger is. Dis lekker, dit laat jou goed voel, dis 'n gewoonte. Of altans dis so ten tye vir heelwat mense. Die meeste van ons het minder nodig as wat ons eet oor die algemeen. As jy baie aktief is, het jy heelwat meer nodig as wanneer jou dag baie passief is.

Hierdie jaar het ek heelwat effort ingesit om by die gym uit te kom, reg te probeer eet en meer gesond te wees. Ek was ook net gedeeltelik suksesvol. Daar is twee redes vir my gedeeltelike mislukking - verkeerd ge-eet en verkeerd ge-oefen. Ek het in die week van Maandag tot Vrydag baie mooi gedoen, gehou by 'n program en baie ge-gym. Van Vrydag tot Maandag was dit soortvan 'n free-for-all. Dan het ek elke naweek 'n gedeelte wat ek in die week bereik het tot niet gemaak. Die vraag is dan hoe kom mens uit hierdie spiraal uit. Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek sê nie dat mens nie lekker mag eet nou en dan nie, dit sal darem te erg wees. Die kwessie is om 'n balans te handhaaf en fokus te behou. Die enigste manier om dit suksesvol vol te hou is motivering en sukses. Om met die regte motivering dit te doen, of te begin doen, is die sleutel. Motivering word aangevuur deur 'n doelwit en sukses. Hoe graag jy die doelwit wil bereik gaan jou laat aanhou of laat slaplê. Onbereikbare doelwitte of 'n doelwit wat nagestreef word wat 'n jaar ver lê, gaan jou nou nie juis motiveer om NOU iets daaraan te doen nie.
Om sukses te behaal met iets, kweek selfvertroue en motiveer jou. Deur dus bereikbare korttermyn doelwitte te hê wat jy bereik, sorg dat jy gemotiveer word om aan te hou en nog meer sukses behaal.

Die ander rede waaroor ek gedeeltelik gefaal het is dat ek nie reg ge-oefen het nie. Ek het soos 'n besetene ysters rondgegooi en nie genoeg fiksheid werk gedoen nie. Ek is 'n groot voorstaander vir met gewigte oefen, dit is ongelooflik watse verskil dit maak, maar ek het die fiksheid gedeelte laat agter wee bly. So weereens moet 'n balans gehandhaaf word.

So as ek kan opsom, kry die regte rede waarom jy iets doen, stel bereikbare doelwitte en behaal sukses.

Die ander aspek vir 'n gesonder lewensstyl/figuur of selfs enige iets wat jy wil verander is daar NOOIT 'n kitsoplossing is nie. As dit te goed is om waar te wees, IS dit te goed om waar te wees. Jy gaan nie oornag ryk word deur jou geld vir iemand te gee nie, jy gaan ook nie maar en fiks word deur vir 'n paar dae mooi te eet of vir een of twee keer of self vir 'n week of twee gym toe te gaan nie. Dit gaan bietjie op 'n slag verander word.

Nou ja, ek het hierdie meer geskryf om my eie gedagtes en motivering te fokus, maar miskien kan iemand dit van waarde vind.

My doelwitte vir volgende jaar vir die blog is om meer gesonde goed te pos, nie dat die odd dekadente ding nie sy verskyning sal maak nie.


So vir almal wat belangstelling in die skribbelinge het, geseënde Kersfees vir julle en julle gesinne en mag die Here die jaar wat voorlê vir julle seën!!

Monday 2 November 2009

Kamma Lasagne

Die probleem met lasagne is dat dit duur is, dit is nie maklik om te maak nie en dit neem baie lank.

Die resep het evolve tot waar dit nou is en ek word amper nie meer toegelaat om 'n ander pasta te maak as hierdie een nie. Die kinners en almal hou baie hiervan. Pasta is seker een van my absolute gunsteling goed om te maak. Daar is niks wat so lekker ruik soos gekookte pasta met bietjie olyfolie op nie. Die variasies is ook eindeloos, van caneloni tot handgemaakte spagetti. Vinnig of baie grand. Koud of warm. Oor die jare het my siening en benadering daarvoor ook verander. Ek verkies dit deesdae om dit eenvoudig te hou.

Hierdie een is redelik eenvoudig om te maak en dit bevat drie elemente wat elkeen gechop-en-change kan word soos wat jy bestandele en lus het:
 - Die pasta
 - 'n Tamatiesous
 - 'n Kaassous
Dit word dan in die oond gedruk en hoila!

Die pasta
Ek verkies macaroni, maar enige nie-string tipe pasta kan werk. Deesdae verkies ek ook die wholewheat variasies wat op die mark is, low gi en al die goed...

Tamatie sous
Hierdie is die gedeelte wat die gereg gaan maak. Dit is ook die een wat eenvoudig of baie fancy gemaak kan word. As tamaties volop is of as ek tamaties het wat nie gebruik kan word voor dit gaan sleg word nie, gooi ek hulle onder in die vrieskas. Die gevriesde tamaties hoef net in warm water gegooi te word vir hulle skilletjies om af te trek. Dit is dan baie keer my basis vir die tamatiesous. Ook gewoonlik 'n blikkie tamatie puree of twee. Wyn werk baie goed in die sous. Wit of rooi. Elkeen gee sy eie karakter daaraan. Rooiwyn maak dit 'n baie donker gereg, terwyl witwyn weer 'n vrugtige geur gee.  Beef mince is die klasieke keuse vir die sous, maar bacon werk ook nie te sleg saam met die tamatie nie. Ek verkies ook om vars speserye te gebruik. Origanum en of tiemie en of roosmaryn en of basil. Hang net af wat jy  beskikbaar het of in die hande kan kry.

Witsous / Kaassous
Dit is beide die maklikste en dalk miskien ook die moeilikste deel hiervan. Die basis van van die sous is meel en margarien of botter. Dieselfde volume meel as botter word gebruik. Die meel word in die botter gebraai om die rou meel smaak uit te haal en dit te bind met die vetterigheid. Ek gebruik dan 'n draad hand klitsertie om die melk in die botter&meel te meng en klonte uit te werk. Die sous moet nie te dik wees nie, dit gaan nog verdik saam met die pata in die oond.
Na die basiese sous kan daar ook redelik variasie op wees. Wanneer die sous klaar is en nog warm is, roer dan gerasperde kaas in die sous in. Dit moet nie kook nadat die kaas in is nie. Hoe beter die kaas hoe beter gaan hierdie sous wees. 'n Goeie belee cheddar is onverbeterlik. Bietjie gerasperde permesaan is ook  baie nice. Speserye hierin is bietjie paprieka en cayenne peper. Hierdie selfde sous is ook ongelooflik lekker op gekookte groente soos blomkool of brocolli.
Vir interesantheid word die basiese witsous 'n Bechamel sous genoem en as jy kaas bygooi is dit 'n Mornay sous. Wikipedia het nogal interesante artikels hieroor:
http://en.wikipedia.org/wiki/B%C3%A9chamel_sauce
http://en.wikipedia.org/wiki/Mornay_sauce

Die resep is redelik basies, met steeds die opsie om sekere bestandele en metodiek te verander:



Kamma Lasagne




Kliek op foto om 'n beter beeld te kry.

Bestandele


1 pak wholewheat macaroni.

Vir Tamatiesous:
3 gevriesde tamaties
1 blikkie tamatiepuree
margarien om uie te braai
1 groot ui
300-500g beef mince
Sout
heel koljander
swart peper
fennel saad
2-3 knoffelhuisies
handvol vars speserye (sien bo)
1-2 koppies witwyn/rooiwyn
teelepel suiker

Vir Kaassous
1 liter melk
3-4 eetlepels koekmeel
3-4 eetlepels margarien
sout
1 koppie gerasperde sterk cheddar kaas
1/2 koppie gerasperde permesaan kaas
1/2 - 1 koppie gerasperde mozzarela kaas


Metode

Kook die pasta al dente en skud bietjie olyfolie daarin sodat dit nie te vas sit aan mekaar nie.

Tamatiesous
Skil gevriesde tamaties deur hulle 'n paar minute in baie warm water te laat le. Trek dan die velletjies af en sny in stukke.
Braai die gesnyde ui en knoffel in margarien tot deurskynend. Gooi mince by en braai tot min of meer gaar.
Gooi die wyn, tamaties, tamatiepuree, gemaalde droe speserye, gekerfde vars speserye, sout en suiker by en kook vir omtrent 15-20 min om al die geure te vestig.

Kaassous
Braai die botter en margarien tot dit amper begin bruin word. Gooi die melk bietjie vir bietjie by en roer dit vinnig om te inkorporeer en sodat daar nie klonte vorm nie. Gooi sout by op heirdie stadium. Kook die sous vir 5-10 minute baie stadig, dit moet nie brand nie, roer gedurig. Waneer klaar is, gooi die cheddar en permesaan kaas by en roer totdat dit gesmelt het. Gooi 'n klein bietjie cayene peper en paprieka in en roer deur.

Verhit oond - 180 C
Bespuit of smeer 'n oondbak wat groot genoeg is vir alles.

Gooi die helfte van die kaassous onder in die bak.
Sit die gaar macaroni bo-op die kaassous.
Gooi nou die tamatie op die macaroni en dan die ander helfte van die kaassous op die tamatie. Eindig met die mozzerella bo-op.
Bak dit nou in die oond totdat dit mooi lyk - omtrent 20 - 30 minute.

Bedien saam met mengelslaai.

Wednesday 28 October 2009

Watterblommetjiebredie

Verlede week toe ry ek in die Boland by 'n padstalletjie in en kry daar toe die baie mooi waterblommetjies. Ek kon dit nie weerstaan nie en koop toe twee pakkies. Ek noem dit vir 'n vriend van my en die soebat toe dat hy sy lus vir waterblommetjies nie kan hou nie en dat ek seblief moet maak.



Nou ek het self baie jare terug laas waterblommetjies gemaak en het al groot flaters gesien met waterblommetjie bredie.
Ek en my vrou het eendag by mense op Hermanus geeet wat die blommetjies net so effens afgespoel het en net so gekook het, dit was aaklig om die minste daarvan te se. Ek het ook my vorige poging drooggemaak en dit was ook nie te wonderlik nie. Dis seker die dat ek baie skrikkerig was om dit aan te pak.


Die skoonmaak daarvan is die ander een waaroor ek nie so seker was nie. As 'n kind het ek heelpartykeer vir my ma gehelp om die blommetjies skoon te maak. Soos ek dit doen, kom dit toe darem terug. Breek die harde blare aan die buitekant af, sny die stingel af, sny alle lelike stukke uit en breek in twee. Dit word dan in soutwater laat le vir 'n paar ure, verkieslik oornag. Dit haal die dam uit die blommetjies (ook alle lewende hawe wat nog mag wegkruip daarin!)


Op die internet het ek 'n paar resepte nagevors en almal het dieselfte tema gehad. Nogal interesant dat selfs Wikipedia 'n artikel het oor waterblommetjiebredie; die oorsprong daarvan interesant om te lees:


Alle resepte wat ek gesien het het een ding in gemeen gehad en dit is datdaar surigheid by die blommetjies moet wees. 'n Vetterige stukkie skaapvleis is ook eintlik 'n moet. Ek sal verkieslik 'n stukkie ribbetjie of selfs 'n skaapstertjie of twee wil ingooi. My kookvleis was nie voldoende nie en ek het daar 'n pakkie saddle braaitjoppies ontdek wat rojaal, maar ideaal sou wees. Ek besluit toe ook om dit so min of meer soos 'n algemene bredie te maak.


Dis hoe ek dit toe gemaak het:


Waterblommetjie Bredie
Skaapvleis (+- 1kg)
Waterblommetjies (+- 1kg)
4 Aartappels
2 Uie
1 Knoffelhuisie
6 Swartpeper korrels
Braaisout
Witsous (sien onder)
Olyfolie vir braai van vleis.
3 koppies droe witwyn
Sap van ½ suurlemoen.


Braai die vleis in 'n swaar pot tot lekker bruin. Haal uit en sit eenkant. Sien die foto vir die proses.


Braai die uie en knoffel in die vleispot. Gooi bietjie wyn by om die braaisels los te kry.
Dit behoort in die pot gekook te word, maar weeksaande is daar nie tyd vir sulke dinge nie, so 'n stoompot maak net die proses baie vinniger.
Spoel die blommetjies goed af onder lopende water en inspekteer vir oulaas vir iets wat dalk nie in die pot moet beland nie.
Gooi alles buiten die aartappels en witsous in die stoompot. Stoom vir omtrent 10 minute.


Sny nou die aartappels in lekker klein blokkies. Gooi alles terug in die pot en sit aartappels in. Proe of dit sout genoeg is en gooi nog braaisout by indien nodig. Druk ook nou die halwe suurlemoen oor die pruttende pot. Prut totdat aartappels gaar is. Gooi dan die witsous by om die sous dik te kry.



Cheat Witsous
Wanneer die aartappels gaar is en jy het dit in die stoompot gemaak, dan is daar heel moontlik te veel vloeistof op die pot. 'n Manier om bredies se sous dikker te kry is om 'n witsous te maak. Van my ma het ek geleer om 'n basiese witsous te maak. Sy het altyd in die braaipan waarin die vleis gebraai was, meel in die vet gegooi, dit klein bietjie gebraai in die vet en dat vloeistof bygegooi en geroer tot dit dik word. Later sou ek leer dat dit in elk geval die basis is vir 'n roux, wat gebruik word vir die einste doel. 'n Roux volgens die teksboeke word gemaak van dieselfde hoeveelheid vet as meel. Die meel word gaargemaak in die vet. Daar word dan vloeistof bygegooi wat dan 'n dik sous maak. Wat ek nou gaan vertel is my cheat manier van 'n roux maak:
Neem 'n eetlepel margarien en 'n eetlepel koekmeel. (Of meer as jy meer sous het wat moet dik kom) Sit dit in 'n koppie of bak of iets wat mikrogolf bestand is. Nuke dit vir 'n paar sekondes totdat die margarien gesmelt is. Roer alles lekker deur en sit vir nog omtrent 60-90 sekondes in mikrogolf totdat die meel in die botter gefuse is. Dit lyk sommer asof dit gaar word. Voordat dit koud word, skep van die sous in die pot op die warm mengsel en roer vinnig deur. Jy sal sien dat daar 'n sous materialiseer. Gooi dan die dik sous terug in die pot en prut deur vir 'n paar minute.




My vriend met die blommetjie-lus was darem tevrede (of so se hy!)









Lesse wat ek geleer het in die proses:
  • Waterblommetjies kook nie so lank soos ek gedink het nie. Min of meer dieselfde as groenboontjies. (klaar in ag geneem in die kooktyd hierbo)
  • 'n Bietjie suiker (of selfs soetwyn sien ek se een resep) kan dalk goed wees. Dit is nie in my resep hierbo in nie. Besluit maar self.
  • Moenie bang wees om tog meer van die buitenste blare te los in die skoonmaak proses nie. Sny uit die wat baie hard is en ooglopend oneetbaar lyk.

Thursday 8 October 2009

Butternutbredie

Ok. Ek het noudiedag 'n boek gelees wat se dat hoender nie goed is vir my nie, vir die tipe mens wat ek is is skaap eintlik beter.
Kyk; ek like hierdie boek!

So nou probeer ek maar skaapvleis eet. Bietjie teen my sin, maar nou ja, wat kan mens dan nou eintlik doen ne.

Gisteraand het ek hierdie gemaak wat beter is as enige pikek wat ek nog geeet het:
(My eie creation by the way)

Butternutbredie

1 kg skaapvleis, ribbetjies ens.
3 butternuts (medium)
6 aartappels
3 uie
250 ml room
1/2 soppoeier - beef
1/2 soppoeier - bruin uie
2-3 teelepels heel koljander
1 teelepel heel peper
1 teelepel heel fennel (finkel)
braaisout
olyfolie vir braai

Braai vleis in olyfolie in swartpot tot bruin.
Haal uit en sit in stoompot
Sny in ringe en braai uie bruin in uitbraaisels in swartpot en laat staan.
Kook vleis tot sag in stoompot. (10-20 min stoom)
Gooi vleis en sous by uie in swartpot.
Sny aartappels stukke en sit in pot bo-op vleis.
Sny butternut in stukke en sit op aartappels.
Maal finkel, koljander en peper fyn in pestel en mortar en gooi speserye in die pot.
Gooi ook braaisout op,
Gooi nog water of stock of vloeistof by as nodig.
Kook tot aartappels en butternut sag is.
Klits soppoeier in room.
Gooi room-soppoeier mengsel in.
Maak versigtig gate in kos (sodat aartappels en butternut nie breek nie) sodat room kan inmeng. Maar probeer om nie te roer nie, die aartappels en butternut en vleis gaan fyn pappery word as jy nou gaan kwaai roer.
Prut vir paar minute sodat room deurkook en sous lekker dik word. Gebruik baie lae hitte. Wees baie versigtig vir aanbrand op hierdie stadium. Kry groot ronde lepel om onder in die pot los te maak sonder om te roer.

Bedien saam met rys - bruinrys/basmati

Dis te min vir 4 mense!