Monday 21 December 2009

Ete-rasies en gedagtes oor motivering.

Hoekom eet 'n mens? Heng, daar is baie meer redes as net omdat jy honger is. Dis lekker, dit laat jou goed voel, dis 'n gewoonte. Of altans dis so ten tye vir heelwat mense. Die meeste van ons het minder nodig as wat ons eet oor die algemeen. As jy baie aktief is, het jy heelwat meer nodig as wanneer jou dag baie passief is.

Hierdie jaar het ek heelwat effort ingesit om by die gym uit te kom, reg te probeer eet en meer gesond te wees. Ek was ook net gedeeltelik suksesvol. Daar is twee redes vir my gedeeltelike mislukking - verkeerd ge-eet en verkeerd ge-oefen. Ek het in die week van Maandag tot Vrydag baie mooi gedoen, gehou by 'n program en baie ge-gym. Van Vrydag tot Maandag was dit soortvan 'n free-for-all. Dan het ek elke naweek 'n gedeelte wat ek in die week bereik het tot niet gemaak. Die vraag is dan hoe kom mens uit hierdie spiraal uit. Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek sê nie dat mens nie lekker mag eet nou en dan nie, dit sal darem te erg wees. Die kwessie is om 'n balans te handhaaf en fokus te behou. Die enigste manier om dit suksesvol vol te hou is motivering en sukses. Om met die regte motivering dit te doen, of te begin doen, is die sleutel. Motivering word aangevuur deur 'n doelwit en sukses. Hoe graag jy die doelwit wil bereik gaan jou laat aanhou of laat slaplê. Onbereikbare doelwitte of 'n doelwit wat nagestreef word wat 'n jaar ver lê, gaan jou nou nie juis motiveer om NOU iets daaraan te doen nie.
Om sukses te behaal met iets, kweek selfvertroue en motiveer jou. Deur dus bereikbare korttermyn doelwitte te hê wat jy bereik, sorg dat jy gemotiveer word om aan te hou en nog meer sukses behaal.

Die ander rede waaroor ek gedeeltelik gefaal het is dat ek nie reg ge-oefen het nie. Ek het soos 'n besetene ysters rondgegooi en nie genoeg fiksheid werk gedoen nie. Ek is 'n groot voorstaander vir met gewigte oefen, dit is ongelooflik watse verskil dit maak, maar ek het die fiksheid gedeelte laat agter wee bly. So weereens moet 'n balans gehandhaaf word.

So as ek kan opsom, kry die regte rede waarom jy iets doen, stel bereikbare doelwitte en behaal sukses.

Die ander aspek vir 'n gesonder lewensstyl/figuur of selfs enige iets wat jy wil verander is daar NOOIT 'n kitsoplossing is nie. As dit te goed is om waar te wees, IS dit te goed om waar te wees. Jy gaan nie oornag ryk word deur jou geld vir iemand te gee nie, jy gaan ook nie maar en fiks word deur vir 'n paar dae mooi te eet of vir een of twee keer of self vir 'n week of twee gym toe te gaan nie. Dit gaan bietjie op 'n slag verander word.

Nou ja, ek het hierdie meer geskryf om my eie gedagtes en motivering te fokus, maar miskien kan iemand dit van waarde vind.

My doelwitte vir volgende jaar vir die blog is om meer gesonde goed te pos, nie dat die odd dekadente ding nie sy verskyning sal maak nie.


So vir almal wat belangstelling in die skribbelinge het, geseënde Kersfees vir julle en julle gesinne en mag die Here die jaar wat voorlê vir julle seën!!